Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 4

Ondersoek jou geloof.

Bybelteks(te)

5Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

2 KORINTIËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle,

2 KORINTIËRS 13:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

7Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.

2 KORINTIËRS 13:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Ons is dus bly as ons swak is, as julle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid.

2 KORINTIËRS 13:9AFR83Maak oop in die Bybelleser
Iets het verkeerd geloop.

Die beste stuurman sit aan wal, lui die Afrikaanse spreekwoord. Ons sien en hoor dit oral: kommentaar vanaf die toeskouerbanke, kenners op die kerkbanke, kritici oor hóé dinge eintlik gedoen moet word, en, en …

Paulus het soortgelyke ervarings vanuit die Korinthe gemeente beleef. Nuwe leermeesters met nuwe “openbaringe” in die gemeente, asook die sogenaamde “doring in sy vlees”, laat vrae by die gemeente ontstaan oor Paulus se egtheid as apostel en hulle vrae bewys juis dat Christus wel in hom spreek soos hy beweer (2 Korintiërs 13:3).

Paulus antwoord hulle baie duidelik: omdat hy nie leef vanuit sy swakheid of vanuit sy eie krag nie, maar vanuit sy geloof in Christus en sy vermoë, gebeur iets opspraakwekkend ‑ sy swakheid word opgeslurp deur die krag van God, want sy krag word in swakheid volbring (2 Korintiërs 12:9). Hy leef, het lief en bedien vanuit sy verhouding met Christus in Hom. Hy gee om vir die Korintiërs, daarom bid Hy tot God dat hulle geen kwaad sal doen nie, maar die goeie (2 Korintiërs 13:7), en dat hulle volmaak sal word (2 Korintiërs 13:9).

Vir Paulus gaan dit nie oor die Korintiërs se opinie oor hom nie, maar oor hulle gedrag ‑ dié soort gedrag wat pas by mense wat bely dat Jesus Christus in hulle is. Die vraag in sy hart is egter of die Korintiërs nog vanuit ‘n egte geloofsverhouding met Christus leef, daarom sy versoek: “Stel julleself op die proef en ondersoek julself of julle in die geloof lewe” (2 Korintiërs 18:5).

 As gelowiges loop ons ook deur onder individue wat ons egtheid in twyfel trek, ons geroepenheid in Christus bevraagteken, of wat met los en vas praatjies ons reputasie skade berokken. In sulke tye voel ons sonder krag, swak en kwesbaar, en weet nie hoe om die praatjies die nek in te slaan nie. Dit is egter in sulke tye dat Christus ín ons, ons kragtig versterk, maar dan moet ons onwrikbaar vas in ons geloof staan en ons moet weet wat ons stand in Christus is.

 Ons moet egter waghou oor hierdie geloofsversekerdheid deur kort-kort inventaris te neem daarvan en eerlik op ‘n paar vrae te antwoord. Leef ons werklik in en vanuit die geloof? Glo ons in Christus se belofte dat Hy en die Vader in ons leef? En ons in Hom? Is ons elke-dag leefwyse ‘n refleksie van Hom in ons? Leef ons met ‘n groeiende bewustheid van Christus se teenwoordigheid en krag in ons lewens, en dors ons onophoudelik daarna? ‘n Twyfelagtige of halfhartige “ja” moet tot die toegewyde regstel daarvan in ons lewens lei.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS