Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 2

Oop ore vir hoor en praat.

Bybelteks(te)

JESAJA 50

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

5Die Here my God het my geleer om te luister:

ek was nie teen Hom opstandig nie,

ek was nie ontrou aan Hom nie.

JESAJA 50:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

EFESIËRS 4

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

EFESIËRS 4:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 21

17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. 18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”

GENESIS 21:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het gister gesels oor die verskil wat die die regte woord op die regte tyd in mense se lewens kan maak. Die geskrewe Woord word rhema woord wanneer die Heilige Gees dit “lewend” maak sodat jy omstandighede in jou eie lewe en ander gelowiges se lewe kan aanspreek.

Maar hoe weet iemand te midde van ‘n besige lewe en sy eie swaar bagasie, dat dit die Here is wat met daardie raak-woord nou aan die woord kom deur my tong? “Die Here, Here” wat die geoefende tong gee, is ook die Een wat ore wakker maak om te luister: “Elke môre laat Hy my opnuut weer luister; Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister” (Jesaja 50:4). Hierdie soort luister vra ‘n bewustelike stilbly, stilsit en afsluit van alle rondhol-gedagtes sodat ‘n mens kan hóór wat die Here vir jou sê.

Wanneer ons biddend met die Woord omgaan tydens ons intensionele stil-word tye, kom die Heilige Gees op misterieuse manier en maak God se stem hoorbaar in ons gees. Ons wéét dit is Hy wat nou aan die woord is! En ons wíl luister!

Maar dit bring verantwoordelikheid: ons mond, hande en voete moet by ons ore gesit word en ons moet dóén; daar is geen ruimte vir teëstribbeling, opstandigheid of ontrouheid aan dit wat Hy met ons gepraat het nie (v5).

Ons Vader se hart is om met elke gelowige persoonlik te praat, maar ons weet reeds uit Jesaja 50:4 dat Hy ook mense gebruik om sy kinders te bemoedig. Wanneer jy bevoorreg is om in iemand se krisistyd, met ander woorde, iemand “wat moeg is, moed in te praat”, doen dit in diep afhanklikheid met ‘n rhema woord, “wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29)

Vandag sien jy dalk geen uitkoms in jou hooplose situasie nie. Hagar was ook op so ‘n plek – sy en haar seun moes woestyn-in, net met brood en ‘n sak water. Haar kind lê sterwend en sy wil dit nie aanskou nie. Haar harde geroep en bitter trane word gehoor: “Wat is dit met jou Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Staan op, tel die seun op en hou Hom vas met jou hand, want Ek sal Hom ‘n groot nasie maak” (Genesis 21:17-18). Ons Hemelse Vader weet van jou en jou gesin, Hy weet van jou onmoontlike situasie en sál ingryp. Luister net soos Hagar na wat Hy vir jou sê om te doen: i) Moenie bang wees nie – Hy hoor; ii) Staan op; iii) Tel jou kind (jou hart) op en troos hom.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS