Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 1

Die regte woord.

Bybelteks(te)

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

4Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei,

ek het my heeltemal verniet afgesloof.

Maar die Here sál aan my reg laat geskied,

my God sál my beloon.

6Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af

tot in die weste kan weet

dat daar buiten My geen God is nie;

Ek is die Here, daar is geen ander nie.

2Ek self sal voor jou uit gaan

en hoogtes gelykmaak.

Ek sal bronspoorte oopbreek

en sluitbalke van yster stukkend kap.

3Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word,

die rykdomme wat weggesluit is,

sodat jy kan weet dat Ek die Here is,

dat Ek jou op jou naam geroep het,

Ek, die God van Israel.

JESAJA 45:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die volk Israel was in ballingskap in Babel en het getwyfel of God regtig vir hulle omgee; hulle het selfs geglo dat Hy die band tussen hulle losgemaak het. Niks kon verder van die waarheid wees nie – God verbreek nooit sy verbond wat Hy met die mens aangegaan het nie!

Iemand was dus nodig om die volk net weer daaraan te herinner dat Hy nie ontrou soos mense is nie; dat die toestand van sy mense nie ongesiens by Hom verbygaan nie. Hy is iemand wat nie uit homself praat nie, maar wat verklaar: “Die Here my God het my ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde.”

Swaarkry en slegte dinge kom oor die pad van elke mens – ook oor die pad van gelowiges – en dan het ons behoefte aan woorde van bemoediging, troos of hoop. En soms ook teregwysing. Leë woorde tref nie die hart van moeë mense nie. Net woorde wat vanuit ‘n hart vol liefde en opregtheid gedeel word, kan bemoedig en hoop bring. En dan moet dit met waarheid deurweek en in waarheid gesê word.

Geen wonder nie dat die profeet skryf: “Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik” (Jesaja 50:4, 1983-vertaling). Dit is net God wat jou ‘n geoefende tong gee om op die regte tyd die regte woord in mense se lewens in te praat – heel moontlik ‘n woord wat die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken.

Vir jou wat hier lees en dalk vandag in sak en as sit en dink: “Ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof” (Jesaja 49:4), sê sy Woord: “Die Here sál aan my reg laat geskied, my God sal my beloon” (Jesaja 49:4b).

 Jy staan voor ‘n taak of opdrag wat vir jou te groot is. Jy voel onbekwaam en minderwaardig. Neem dan die Here se woorde aan Kores ter harte: “Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak. Ek sal vir jou skatte gee wat in die donker gebêre word … sodat jy kan weet dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel” (Jesaja 45:6,2-3).

 Vir jou wat wonder of enigiemand jou liefhet. a! Die groot God, jou Skepper het jou innig lief: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)

 Dink jy nie dat Hy jou ook wil gebruik om in mense se lewens inspraak te gee nie? Laat Hom toe om jou te leer hóé.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS