Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 13

Maar soos verjaarsdae gaan …

Bybelteks(te)

15Maar ek vertrou op U, Here,

ek sê: U is my God.

16My tye is in u hand.

Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!

PSALMS 31:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ja, jy’t reg geraai, dis vandag my vierde verjaarsdag op vers-ʼn-dag – en tegnies is dit ook die dag waarop ek sou uitspan of die tuig neerlê – overgesetsynde, sou aftree. Volgens algemene maatskappypraktyk en die wet van die land is vyf-en-sestig jaar ʼn goeie ouderdom om op te hou werk want dalk is jou potloodjie nie meer so skerp nie of jy bring dalk nie meer die kloutjie by die oor nie.

Ewenwel, hier is ek nou, te “oud” om te werk maar steeds hard aan die werk in God se akker. Ek kan my voorstel hoe God in sy mou lag vir al die “goue oues” wat Hy nou kan gebruik om uiteindelik en voltyds in sy saailand te werk.

As ek terugkyk oor sowat veertig jaar se harde werk – met hier en daar ʼn paar jaar af om kinders te versorg, voel ek so geseënd. Wetende dat ek ʼn rustelose siel is, het God my oor die jare ʼn bietjie van alles gegee om te doen – ʼn bietjie onderwys, ʼn bietjie vertaal- en skryfwerk, kinders grootmaak, ʼn bietjie prentjies skilder en om te werk met mense uit verskeie uitlopende gemeentes. Hy het my die voorreg gegee om met die Bybel te werk en geleenthede te skep om die Bybel nader aan mense te bring. En tog is dit nie die einde nie. Hier in Japan verskil die oesland maar die roeping verander nie.

Het ek enige idee gehad oor die pad wat my lewe sou loop? Soos almal het ek my foute gemaak en doen dit steeds; dikwels verkeerde besluite gemaak en doen dit steeds; dikwels die pad byster geraak en doen dit steeds; sleg gepraat van ander en doen dit steeds; by tye my geloof agterweë gelaat en doen dit steeds. Tog het God my naby aan hom gehou – juis omdat Hy my swakhede beter geken het as ek. So hier staan ek – kan nie anders nie – steeds geseën met God se goedheid en vergifnis en so sal ek voortgaan totdat dit tyd is om te gaan – in God se tyd.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS