Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 12

Tekens van die tye.

Bybelteks(te)

23Julle gees en gedagtes moet nuut word;

EFESIËRS 4:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sat vir dieselfde roetine, dag in en dag uit? Wat het geword van al ons mooi voornemens vir die jaar? Het ek my dan nie voorgeneem om dinge anders te doen die jaar nie? En hier staan ek aan die einde van nog ʼn jaar sonder dat iets noemenswaardig verander het.

Charles Darwin, die veelbesproke skywer van “Origin of the Species” het baie wyslik gesê: “Dis nie die sterkste of die mees intelligente spesies wat gaan oorleef nie, maar die wat die mees bedag was op verandering.” Hoe vaar jy in die lewe, gemeet aan hierdie voorwaarde?

Is jy bereid om jouself toe te laat om te verander?

Is jy bereid om te aanvaar dat jy nie al die antwoorde het nie en dat daar meer as een manier is om met die wat naaste aan jou is te werk te gaan?

Wat vat dit om te verander?

Die eerste stap is om die noodsaaklikheid vir verandering raak te sien, en tweedens om oop te wees vir ander insigte. Luister na die wat die naaste aan jou is – wat sê hulle van die manier waarop jy met ander omgaan? Wat sê jou hart vir jou? Kyk in die spieël van God se Woord om jouself te herken in die lig van die Skrif. Hoe lyk die prentjie wat jy daar sien?

Hier is maar net ʼn paar maniere wat jy kan oorweeg om te verander:

  • Verander ʼn negatiewe manier van dink in ʼn positiewe manier van dink.
  • Vervang jou behoefte om te beheer met die bereidwilligheid om saam te werk.
  • Verruil ʼn gees van verwerping vir ʼn gees van aanvaarding.
  • Verander veroordeling in vergifnis.
  • Omskep verstoktheid in groei.
  • Verander verveeldheid in verwondering.
  • Kies vrygewigheid bo inhaligheid.
  • Omskep woede in ʼn gees van openheid en begrip.
  • Verander hardvogtigheid in omgee.
  • Omskep onrus in ʼn gevoel van kalmte.
  • Verruil selfsug vir dankbaarheid.
  • Maak staat op God se krag om jou te verander.

“Wees sterk en vol moed.” Hierdie woorde aan Josua op die vooraand van sy intog in die beloofde land, word dikwels aangehaal wanneer jy te staan kom voor ʼn onbegonne of moeilike opdrag, of wanneer jy gekonfronteer word deur ʼn vyand waarteen jy nie opgewasse is nie. Wag op God. Hy is jou krag en jou sterkte – ook wanneer tye verander en jy nuut moet begin.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS