God se genade, liefde en krag – Dag 4
Kan ons nog verwonderd wees oor iets?
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Daar is baie dinge wat ons as gewoon aanvaar. Die dag wanneer beurtkrag jou woonbuurt tref of die water in jou omgewing afgesny word, besef ons hoe gewoond ons aan ʼn skakelaar en ʼn kraan geword het. In werklikheid is dit iets besonders. Draai die kraan oop en daar is water; sit die skakelaar aan en daar is lig of die stoof word warm. Druk jou plastiekkaart in die OTM en wie is nog verwonderd wanneer dit vir jou banknote gee? Skype met jou kinders in die buiteland of klim op ʼn vliegtuig en binne twee uur kan jy tussen Kaapstad en Johannesburg vlieg en vanaand terugkeer huis toe. Wie van ons is nog verwonderd oor hierdie wonderlike uitvindsels van ons tyd?
Die gebrek aan verwondering geld ongelukkig ook ons geestelike lewe. Die meeste van ons besit meer as een Bybel en baie van ons is deel van geloofsgemeenskappe. Ons hoor gereeld dat God ons liefhet – in so ʼn mate dat Hy selfs mens geword het en sy Seun Jesus Christus na ons gestuur het. Maar wie is nog opgewonde en stom van verbasing hieroor?
Ek is jaloers op daardie mense van die Kersverhaal. Hulle was verstom. “Hoe kan so iets wees?” het hulle gevra. Vir my en jou is die Kersverhaal so gewoon. Soos om ʼn kraan oop te draai en ʼn skakelaar aan te sit.
Die geboorte van Jesus was in werklikheid ongelooflik. Daarmee het God gewys dat Hy veel meer vir ons as mense omgee as wat ons besef. En dat Hy veel meer wou doen om na ons uit te reik as wat ons ooit gedink het.
Daarom was die mense in Lukas 2:18 so verbaas, so verwonderd. Dat God só is. Hulle het nie gedink dat dit sal gebeur nie – dat God werklik as mens gebore word om naby aan ons te kom.