God se genade, liefde en krag – Dag 5
God is groot en klein, ver en naby
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Ons word groot met die idee dat God groot is. Baie groter as ons. Die psalms stel God voor as die Koning van die heelal wat met krag en majesteit regeer (Psalm 111:2-3). Toe God na die aarde gekom het, het Hy dit gedoen op ʼn manier wat niemand verwag het nie. God het nie as die toppunt van grootheid gekom nie, maar as die toppunt van kleinheid. God wat die sterre en planete met sy hand kan vashou, het ʼn menslike embrio geword, ʼn baba in doeke toegedraai.
Ons stel ons God ook voor as die Ewige. Hy was nog altyd daar en sal vir altyd daar wees. As ons met ons menslike tydelikheid oor God se ewigheid dink, voel dit vir ʼn mens of Hy ontoeganklik is. Ver weg. Daarom vul dit ons met vrees. Maar met Jesus se koms na ons het God hierdie afstand tussen ewige God en tydelike mens oorbrug. God word een van ons. Daarom sê die engele: “Moenie bang wees nie.” Soos wat ʼn kind toeganklik is, so het God toeganklik geword.
God het ʼn enorme risiko geneem toe Hy in Jesus na ons gekom het. Sou mense Hom erken as God? Destyds het die mense gevra: “Is hy dan nie die timmerman se seun nie?” (Matteus 13:55). En ook: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Johannes 1:46). God het al sy majesteit, heerlikheid en mag afgelê toe Hy mens geword het. Wie het dit verwag?
Geen wonder die mense van daardie tyd was verbaas nie. Verwonderd dat God so gehandel het, so ʼn risiko geneem het – maar Hy het dit gedoen omdat Hy sy liefde vir my en jou wou demonstreer.