God se genade, liefde en krag – Dag 19
Hy help ons kies
Bybelteks(te)
MATTEUS 22
Wanneer ʼn mens voor ʼn keuse staan, sal dit darem handig wees as die Here vir ʼn mens duidelik kan sê wat om te doen. Iets soos ʼn brief of ʼn stem uit die hemel sou baie help. Dan weet ʼn mens ten minste wat jy moet doen en waar jy aan of af is.
Dit is moeilik om goeie keuses te maak. Watter beroep moet ek kies? Is dit die regte man of vrou vir my? Die priester, die Leviet en die Samaritaan het elkeen voor die keuse gestaan of hulle die halfdooie man langs die pad moes help of nie. Net een het besluit om die man te help. Nadat die Here vir Naäman gesond gemaak het, bied hy vir Elisa geld aan. Elisa moes besluit of hy die geld wil neem of nie. Hy het nie. Potifar se vrou het vir Josef genooi vir ʼn aandjie se plesier en hy moes ʼn keuse maak. Hy het nee gesê.
Ons staan elke dag voor nuwe keuses. Wat is nou ʼn goeie keuse om te maak? Die antwoord hierop is: Dit is die keuse wat gebaseer is op God se reëls vir ons.
In die eerste plek is daar ʼn keuse wat alle ander keuses voorafgaan. Dit is die keuse vir of teen Jesus, want dit beïnvloed alle ander keuses. ʼn Mens sal nooit volgens die reëls van God wil leef, as jy nie eers ʼn keuse vir God gemaak het nie. Jy moet dus allereers besluit of jy vir God wil lewe of nie, of jy Jesus wil volg of nie. Waarom sou jy Jesus wil volg as jy Hom nie ken nie?
Wanneer jy gekies het om Jesus te volg, sal die ander keuses van die lewe makliker wees.