Bible Society of South Africa

God se genade, liefde en krag – Dag 20

Hy gee wysheid

Bybelteks(te)

SPREUKE 3

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Christenwees beteken nie in die eerste plek om ʼn klomp reëls en wette te gehoorsaam nie. Dit ook wel, maar Christenwees is allereers om ʼn verhouding met Jesus te hê. As jy dus kies om vir God te leef, sal jy ook na Hom wil luister en sy wil doen. Die vraag is egter: Hoe weet jy wat God se wil is en wat sy goedkeuring wegdra?

Sommige sê ek laat my deur die gewoonte lei. My pa en ma en hulle pa en ma het so gemaak en daarom maak ek so. Ander laat hulle deur die meerderheid lei. Almal maak so, daarom maak ek ook so. As Christene het ons egter ʼn ander hulpmiddel om ons met ons lewenskeuses te help. Dit is die Bybel.

Die Bybel help ons om baie van ons vrae op te los. Maar soms is die Bybel oor sekere sake nie duidelik nie, bloot omdat dit toe nie bestaan het nie. Toe die Korintiërs nie uit die Bybel kon vasstel of hulle vleis wat ʼn afgodsoffer is mag eet of nie, was Paulus se raad: “Doen alles tot eer van God” (lees 1 Korintiërs 10:23-33).

As ons dus nie weet hoe nie, sal die Here ʼn gebed om wysheid altyd verhoor: “Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou,” sê die Here in Psalm 32:8.

Dit is nie altyd maklik om te doen wat die Here wil nie. Maar wanneer ons gekies het om vir God te leef sal ons graag aan die Here gehoorsaam wil bly in ons keuses.

God, wat die lewensreëls vir ons gemaak het, weet wat die beste vir ons is. Hy het ons gemaak. Hy weet dan ook watter manier van lewe die beste by ons pas.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS