Bible Society of South Africa

God se genade, liefde en krag – Dag 18

Hy luister wanneer jy bid

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bid jy nog? Wat dink jy van gebed?

ʼn Mens kan nooit te veel bid nie – net te min. Gebed, word dikwels gesê, is soos om asem te haal: As jy daarmee ophou, dan leef jy nie veel langer nie. Gebed is om met God te praat. Deur te bid wys jy dat jy die Here nodig het en daardeur eer jy Hom. Jy kom ook agter dat jy nie alleen is nie – jy praat met die Skepper van hemel en aarde!

Gebed is nie net om vir iets te vra nie. Gebed is ook om te dank en skuld te bely, om oor alles wat in jou hart leef met God te praat. Niemand wat bid, sal kan sê dat dit tevergeefs is nie. God sal nooit sê dat Hy nie nou tyd vir jou het nie. Hy is altyd daar (Matteus 28:20).

Die vraag is altyd, help dit om te bid? As die vraag bedoel: Gebeur alles soos wat ek dit vra, dan moet ʼn mens sê: Nee, nie altyd nie. Daar is gebede wat nie verhoor word nie. Soms bid ons vir mense wat siek is, en dan sterf hulle tog sonder om genees te word. Daar is dan ʼn teleurstelling by ons (2 Korintiërs 12:7-9).

Ons lewe saam met God is nie soos ʼn soetsappige roman wat altyd ʼn goeie einde het nie. Die rede is omdat daar meer as ʼn aardse lewe is. Ons glo dat daar lewe na lewe is. Dikwels gee die Here nie ʼn uitkoms wat ons begeer nie, maar Hy gee die krag om die uitkoms te aanvaar (Psalm 138:3).

Intussen troos Paulus ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God … sal oor julle harte en gedagtes die wag hou” (Filippense 4:6-7).

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS