God se genade, liefde en krag – Dag 17
Oordink die Bybel
Bybelteks(te)
MATTEUS 7
Die twee fondamente
Die psalmdigter skryf dat dit goed gaan met mense wat hulle vreugde in die Woord van die Here vind en dit dag en nag oordink (Psalm 1:1). Dit is onbevredigend om die Bybel net te lees en nie te oordink nie.
Om te oordink is om te lees en jou af te vra: Wat beteken dit vir my lewe? Wat wil God vir my deur hierdie gedeelte sê? Is hier ʼn belofte wat ek vir my kan neem? Is hier ʼn sonde wat ek moet bely? Is hier ʼn waarskuwing wat ek in die praktyk kan gebruik? Wanneer ʼn mens die Bybel só lees, is dit nie ʼn maklike oefening nie! Hierdie manier van Bybellees is amper ʼn worsteling, ʼn gestoei met die teks om die regte betekenis vir jou lewe te ontdek.
Dit is byna soos Jakob wat met die Here gestoei het en uiteindelik gesê het: “Ek sal jou net los as jy my seën” (Genesis 32:26). Lees totdat die betekenis duidelik is. Daniël was ʼn staatsamptenaar met baie verantwoordelikhede en ʼn besige program. Hy het hom drie keer op ʼn dag afgesonder om tyd met die Here deur te bring, want hy het besef dit is belangrik vir sy verhouding met die Here (Daniël 6). Drie keer per dag – nie drie minute per dag nie!
Oordink. Pas toe. Jesus het gesê dat die lewenshuis van iemand wat net na die Bybel luister sonder om te doen wat dit vra, ineen sal stort. Wanneer jy lees en toepas, hoor en doen, dan sal jou lewenshuis bly staan – al kom die vloedwaters en die rukwinde. Die fondament is op rots.