Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 9

Die belofte van blydskap

Bybelteks(te)

10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

JOHANNES 15:10-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Christendom is ʼn godsdiens van blydskap — blydskap in die lewe, blydskap om te kan gee.

ʼn Engel van God het een nag wonderlike nuus gebring aan skaapwagters buite Betlehem: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (Lukas 2:10-11).

Die woorde van die engel het waar geword. Blydskap is ʼn herhalende tema in die Christelike kerk. Blydskap en vreugde word meer as 130 keer in die Nuwe Testament genoem.

Die lewe is egter nie net maanskyn en rose nie. Probleme en angs is soms oorweldigend. Wanneer lewenstorms egter dreig, moet ons Paulus se raad volg: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Filippense 4:4).

In watter situasie ons ons ook al mag bevind, moet ons ons oë op Jesus gerig hou sodat ons blydskap volkome kan wees.

Jesus het na die wêreld gekom om God te verheerlik en om sy liefde vir die mens te openbaar en aan hulle die ewige lewe te skenk.

Jesus het elke geskikte oomblik gebruik om uit te reik na ander. Ons moet probeer om sy voorbeeld te volg. Selfs wanneer dit beteken dat ons uit ons gemaksone moet tree. Dit is nie altyd maklik nie. Wanneer ons probleme het, is dit nie maklik om aan te hou glimlag nie.

Jesus het geweet dat sy dissipels na sy dood hartseer sou wees en Hy het hulle met ʼn belofte vertroos. “Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie” (Johannes 16:22).

Niks kan ons blydskap wegneem nie want ons weet dat ons ʼn opgestane Verlosser aanbid en dat ons Hom eendag van aangesig tot aangesig sal ontmoet. Wat ʼn wonderlike dag om na uit te sien!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS