Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 7

Wees versigtig vir vals beloftes

Bybelteks(te)

12Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. 13Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.

2 TIMOTEUS 3:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Niks is meer afbrekend as wanneer mense die vals beloftes glo wat gewetenlose mense maak en hulle geloof en waardes daardeur ondermyn word nie.

Die Bybel waarsku ons teen die gevaar om bedrieg te word: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Petrus 5:8).

Die duiwel het nie gehuiwer om Jesus, wat seker baie honger en fisies swak moes gewees het nadat Hy 40 dae in die woestyn gevas het, te versoek nie.

“As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” Jesus antwoord hom uit die Skrif dat ʼn mens nie net van brood alleen leef nie (Deuteronomium 8:3).

Die duiwel neem Hom toe na die hoogste punt van die tempel en in die woorde van Psalm 91:11-12 daag hy Hom uit om daar af te spring en te bewys dat Hy die Seun van God is. Jesus antwoord hom: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie’ ”.

Die duiwel neem Hom toe na ʼn baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag. Toe kom die vals belofte “Dit alles sal ek vir U gee” en die instruksie “as U neerval en my aanbid” (Matteus 4:9).

Jesus wou niks hiervan weet nie. “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ”

Hoe beveg ons die duiwel en die bose wat hy in die wêreld bring?

Deur vas te hou aan die belofte van God dat as ons die duiwel weerstaan en God dien, sal Satan van ons weggaan. Kom ons bid dat ons die krag deur die Heilige Gees sal ontvang om dit te kan doen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS