Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 6

Die beloofde Messias bring ʼn nuwe bedeling

Bybelteks(te)

24Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem.

HEBREËRS 9:24-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die hoogtepunt van aanbidding in die tempel in Jerusalem het een keer ʼn jaar op die groot versoendag (Jom Kippoer) plaasgevind. Slegs op daardie dag is die hoëpriester toegelaat om agter die gordyn in die Allerheiligste deel van die tempel in te gaan. Daar moes hy ʼn bloedoffer aan God bring ter versoening van die sondes van die mense. “Omdat die lewe van ʼn dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is …” (Levitikus 17:11).

Matteus het vir ons opgeteken dat die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur het toe Jesus aan die kruis gesterf het (Matteus 27:51).

Dit was nie langer nodig vir ʼn hoëpriester om elke jaar ʼn bloedoffer te bring ter vergifnis van sondes nie. Jesus het sy lewensbloed gestort om vergifnis van sondes en verlossing te verseker vir almal wat Hom as Verlosser bely. Dit het meegebring dat al God se kinders voortaan deur sy Seun, Jesus Christus, direkte toegang tot Hom kan kry. Jesus is ons Hoëpriester wat selfs op hierdie oomblik in die hemel by die Vader vir ons intree.

Op die plek waar Salomo se tempel eens was, asook die tweede tempel wat Herodes herbou het, is daar vandag ʼn Islamitiese moskee. ʼn Mensgemaakte tempel in Jerusalem is nie noodsaaklik vir ons geloof nie, want deur die genade van God is ons sy tempel en sy Gees leef in ons (1 Korintiërs 3:16). Eer aan God, Halleluja.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS