God se beloftes – Dag 2
Die groot belofte aan die mensdom
Bybelteks(te)
GENESIS 12
God se roeping bevat die grootste belofte: Abram, jy, ek en alle mense sal deur Hom geseën word.
O, om die geloof van Abram te hê en God se wil vir ons lewens te aanvaar! Abram was gewillig om op die ouderdom van 75 uit sy gemaksone te tree, sy land en sy mense te verlaat en in gehoorsaamheid aan God se roeping die onbekende te betree. Wanneer ons op God se roeping antwoord, beloon Hy ons bo ons verdienste, alhoewel daardie beloning miskien nie onmiddellik sal plaasvind nie. God het sy eie tydtafel. Abram was 99 jaar oud voordat God sy verbond met hom bevestig het en hom Abraham genoem het (Genesis 17:5-7).
Dit het God se volk baie geslagte geneem om die implikasie van sy belofte aan Abraham vir hulle eie lewens te verstaan. Matteus bevestig die goeie nuus in sy Evangelie. Jesus was die langverwagte, beloofde Messias.
Matteus doen dit deur ʼn deeglike uiteensetting van Jesus se geslagsregister in die eerste hoofstuk. In die heel eerste vers lees ons: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham.”
Paulus maak dit baie duidelik dat God se belofte aan Abraham vir beide Jode en nie-Jode geld: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God” (Galasiërs 3:29).
Abraham se lewe is ʼn spieëlbeeld van wat ons lewens behoort te wees. Deur die Heilige Gees is ons ook deur God geroep met die belofte: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word …” (Handelinge 16:31).
In antwoord op daardie roeping, moet ons God eerste stel in ons lewens. Mag die Here ons help om dit te kan doen.