Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 3

Ons ken nie die pad vorentoe nie

Bybelteks(te)

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

SPREUKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die meeste van ons koester drome en ambisies wat nie altyd bewaarheid word nie. As gelowiges moet ons egter onthou dat God in beheer van ons lewens is en dat Hy ons op hierdie aarde geplaas het om Hom te dien en nie onsself nie.

Miskien het jy ʼn brandende begeerte om sukses op ʼn spesifieke gebied te behaal, maar dit sal leeg wees as dit teen God se wil vir jou lewe is. Dit is slegs wanneer ons ons aan God se heerskappy onderwerp en in gehoorsaamheid aan Hom leef, dat ons ware vrede vind.

Koning Dawid het ook ʼn brandende begeerte gehad wat, ongeag die feit dat hy vir 40 jaar op die troon was, nooit bewaarheid is nie. Nadat sy leër Jerusalem binnegeval en die Jebusiete verslaan het, het Dawid daar gaan woon en die verbondsark na die stad gebring.

Dawid se brandende begeerte was om ʼn pragtige tempel te bou om die ark te huisves.

Dit het egter nie gebeur nie.

God het aan Dawid geopenbaar dat hy nie die tempel mag bou nie omdat hy te veel bloed laat vloei het en groot oorloë gevoer het. Hierdie voorreg sou sy seun, Salomo, ʼn man van vrede, toekom. God het Dawid belowe dat Hy, terwyl Salomo op die troon is, vir Israel ʼn tyd van rus en vrede sou gee (1 Kronieke 22:6-9).

Mense raak dikwels so gegrief en verbitterd wanneer ʼn droom of ambisie nie bewaarheid word nie. Dit was egter nie die geval met Dawid nie. Aangesien Salomo nog jonk en onervare was, het Dawid solank vir hom voorbereidings getref en planne gemaak wat Salomo sou help om eendag, wanneer hy koning word, die tempel te kan bou (1 Kronieke 22:5).

Dawid is ʼn rolmodel wat ons gerus kan navolg. God se planne is nie noodwendig ons planne nie. Wanneer ons begeertes en ambisies gedwarsboom word, moet ons net rus in die wete dat God die beste weet. Deur Hom te volg sal ons eendag die poorte van die hemel binnegaan.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS