Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 1

Waardevolle beloftes van God

Bybelteks(te)

4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

2 PETRUS 1:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

In 1681 skryf die digter en essayis Heraclitus Ridens: “He makes no more of Acts of Parliament, than if they were like promises and pie crusts, made to be broken.” Uit die geskiedenis weet ons nie oor wie hy geskryf het nie, maar sy woorde is vandag steeds relevant. Die betekenis is duidelik: ons moet nie op beloftes vertrou nie.

Dit is ʼn les wat ʼn mens ongelukkig baie gou in die universiteit van die lewe leer. ʼn Belofte is wel ʼn versekering dat iets gedoen sal word of sal plaasvind, maar selfs beloftes wat in alle opregtheid gemaak word, word nie altyd gehou nie.

Die Bybel is vol beloftes van God — beloftes aan nasies, konings, profete, leiers, priesters, en aan jou en my. Daar is so baie beloftes dat dit eintlik onmoontlik is om te tel. Bronne verskil maar daar is na raming meer as 3 600 beloftes in die Bybel. Sommige van hierdie beloftes is reeds vervul terwyl ander nog moet gebeur. Een ding is egter seker: elke belofte wat God gemaak het, sal nagekom word, want God vertel nie leuens nie en Hy is nie vals nie. Ons kan die beloftes van God vertrou.

In ons teksvers beklemtoon Petrus dat ons van die korrupte wêreld en al die beloftes wat verbreek word, kan ontvlug. Elke Christen wat Jesus Christus as Saligmaker aanvaar, het toegang tot die krag en beloftes van God. Ons word belowe dat ons in Jesus oor alle hulpmiddels beskik wat ons nodig het om in sy goedheid en heerlikheid te kan deel en om tot eer en verheerliking van God te kan leef.

Dit is God se kosbare belofte aan jou en my en aan elkeen wat glo.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS