Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 19

Die belofte van vergifnis

Bybelteks(te)

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

MATTEUS 6:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om werklik jammer te wees oor dit wat jy verkeerd gedoen het en om te vra om vergewe te word, verg ʼn spesiale soort moed. Om die inisiatief te neem en iemand wat iets verkeerd teen jou gedoen het te vergewe, is selfs moeiliker.

Die apostel Petrus het op ʼn keer by Jesus raad gesoek oor vergifnis. “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer” (Matteus 18:21-22).

Petrus se vraag is een waarmee baie van ons dikwels worstel. Die Bybel is egter onversetlik oor die belangrikheid van die regte verhouding met God en met mekaar.

Ons teks bevat die belofte: “ … sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” Dit maak nie saak hoe erg ʼn mens gesondig het nie, God is gewillig om ons te vergewe.

In die eerste brief van Johannes lees ons: “Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:9).

Die eerste stap wanneer ons vergifnis soek omdat ons iets verkeerd gedoen het, is om te bid en die Here te vra om ons te vergewe. Jesus het ons geleer hoe om dit te doen: “ … en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matteus 6:12). En dan moet ons na die persoon teen wie ons verkeerd opgetree het gaan en probeer om die verhouding te herstel.

Die instruksie wat vandag se belofte voorafgaan is van toepassing wanneer iemand anders verkeerd teenoor jou opgetree het. Dit is nie maklik om te vergewe nie, maar niks sal jou meer benadeel as om ʼn wrok te koester nie.

Om te vergewe, maar nie te vergeet nie, is nie ʼn opsie nie. Ons moet ander heeltemal vergewe voordat ons vergewe kan word.

Om te leer hoe om te vergewe, hoef ons net na die lewe van Jesus Christus te kyk. Daar aan die kruis terwyl Hy ter wille van jou en my sondes in ondraaglike pyn verkeer, bid Hy: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34).

God vergewe ons sondes en Hy roep ons om dieselfde met ander te doen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS