Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 18

Wat jy saai sal jy maai

Bybelteks(te)

9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

GALASIËRS 6:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is almal op een of ander manier saaiers. Elke dag, deur ons woorde en dade, saai ons die saad van vriendelikheid of onvriendelikheid. Ons saai saadjies wat iemand laat glimlag en gelukkig maak, of saadjies wat trane en wanhoop veroorsaak. Ons woorde en ons dade beïnvloed ander ten goede of ten kwade.

Die eerste gelykenis wat Jesus volgens Matteus vertel het, is die gelykenis van die saaier wat uitgegaan het om te saai. ʼn Deel van sy saad het op die pad geval, sommige op die klipbanke en tussen die onkruid en ʼn deel het in die goeie grond geval. Slegs die saad wat in die goeie grond geval het, het ʼn oes gelewer (Matteus 13:3-8).

Die dissipels het Hom toe gevra hoekom Hy met die skare deur gelykenisse praat. Jesus verduidelik toe dat die geheim van die koninkryk van God aan die dissipels geopenbaar is, maar dat Hy in gelykenisse praat met die wat nie so bevoorreg is nie.

Toe het Jesus die betekenis van die gelykenis van die saaier verduidelik (Matteus 13:18-29). Hy het die saad wat gesaai is, met die woord van God vergelyk (Lukas 8:11).

As medewerkers van Christus is elke Christen ʼn saaier. Deur ons woorde en dade saai ons die woord van God. Met tye sal ons diep teleurgesteld wees want nie al die saad wat ons saai word goed ontvang nie. Ons kan soms ʼn klap in die gesig of verwerping verwag, maar ons moet in ons taak volhard.

Ons mag miskien nooit in ons tyd hier op aarde die resultaat sien van die saad wat ons saai nie, maar eendag sal ons dit wel sien.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 3:6: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het”. Paulus en Apollos het hulle taak voltooi. Nou is dit ons beurt om hande te vat en in God se oesland te plant.

Kom ons doen dit in die geloof. Daar is werk om te doen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS