Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 20

Die belofte van vrede

Bybelteks(te)

29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

MATTEUS 11:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Niks ontstel ons meer as wanneer ons besef dat ons persoonlike of nasionale veiligheid bedreig word nie. Die meeste mense wil net ʼn veilige bestaan in harmonie met ander voer.

Op internasionale vlak lyk dit nie altyd haalbaar nie. Oorloë, ekonomiese en gesondheidskrisisse, asook terreur het die onaanvaarbare deel van ons bestaan gemaak. Op tuisbodem is droogte, werkloosheid, armoede, misdaad en korrupsie ʼn realiteit. Die stres waaraan ons blootgestel word, kan ons gesondheid en gemoedsvrede beïnvloed.

Dit is ongelukkig waar dat die wêreld in ʼn voortdurende staat van onrus verkeer sedert Adam en Eva teen God gerebelleer het en uit die tuin van Eden verban is (Genesis 3:23). Sedert sonde in die wêreld gekom het, is daar ʼn skeiding tussen God en die mens. ʼn Skeiding wat net deur die liefde van Jesus Christus oorbrug kan word.

Toe het Jesus gekom om sy bediening hier op aarde uit te leef. Hy het blindes laat sien, lammes laat loop, melaatses genees, dowes laat hoor, en dooies opgewek (Matteus 11:4-5). Sy belofte van rus vir diegene wat angstig en vol vrees is, is ʼn ope uitnodiging vir almal wat uitgeput en oorlaai is.

Die Jode in Jesus se tyd is gedwing om onder die Romeinse juk te leef. Dit was moeilik en is veroorsaak deur die wreedheid van die Romeinse ryk. Ysere dissipline gekombineer met verdrukkende belastings kan ʼn mens se gees breek en ʼn nasie tot oorgawe dwing. Die Jode het dit gehaat.

In teenstelling dwing Jesus nie sy juk op enigiemand af nie. Inteendeel, Hy nooi almal uit om sy juk op te neem met die belofte: “want my juk is sag en my las is lig.” Soos alle bybelse beloftes kom hierdie een ook met ʼn opdrag: “Neem my juk op julle en leer van My.”

Om van Jesus te leer en gehoorsaam te wees aan sy leringe, verg dissipline en uithouvermoë, maar dit waarborg rus en vrede vir die siel.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS