Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 17

Maak die beste van ons gawes

Bybelteks(te)

10As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

1 PETRUS 4:10-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nie een van ons is per ongeluk hier nie. God het ʼn plan en ʼn doel met elkeen van ons. Die gesegde “God gebruik diegene wat Hy gekies het” is baie waar en het betrekking op alle Christene.

Teen die einde van sy bediening op aarde met die kruis wat vir Hom wag, het Jesus vir sy dissipels gebid: “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur” (Johannes 17:18).

Om die Here Jesus as Verlosser aan te neem, is die enigste manier om van ons sondes verlos te word en die ewige lewe te bekom. Deur die genade van God het ons as Christene hierdie kosbare voorreg ontvang en is dit absoluut noodsaaklik dat ons ander van die goeie nuus van Jesus moet vertel.

Elke Christen is geroep om ʼn sendeling te wees. Sommige gebruik die genadegawes wat hulle van God ontvang het in ʼn voltydse bediening, terwyl ander hulle gawes gebruik om persoonlik te getuig of deur kerke of sendingorganisasies te ondersteun.

In Suid-Afrika is ons bevoorreg dat ons oor vryheid van geloof beskik. Ons kan sonder vrees vir vervolging ons sendingaktiwiteite uitleef en op hierdie manier God se groot liefde vir die mens bekendstel. Baie Christene doen dit deur die woord van God, die Bybel, beskikbaar te stel.

Daar is groepe wat stap, hardloop, fietsry en swem om fondse vir Bybels in te samel. Die Word Riders, ʼn groep motorfietsryers, onderneem elke jaar vrywillig ʼn toer om met Bybels uit te reik na skoolkinders in mindergegoede dele van ons land. Ander wat nie fisies so aktief is nie, help om Bybels beskikbaar te stel deur by die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub aan te sluit.

Almal is medewerkers van Christus aangesien hulle die goeie saad van die evangelie saai. Hulle het die voorreg en vreugde om volkome deel van die Groot Opdrag te wees en op hierdie manier lof en eer aan God te bring.

Mag die Here ons help om ons gawes effektief in sy diens te gebruik.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS