Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 16

ʼn Belofte vir diegene wat besorg is

Bybelteks(te)

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Regoor die wêreld is die slagspreuk “Keep Calm and Carry On” baie gewild. Dit is ʼn leuse waarmee ons almal kan vereenselwig. Niks is moeiliker as om kalm te probeer bly wanneer ons as gevolg van omstandighede buite ons beheer onder druk is nie.

Dit is dan wanneer ons gerus die woorde van die digter Alfred (Lord) Tennyson moet onthou: “Closer is He than breathing, and nearer than hands and feet.”

God is altyd daar om ons gebede te hoor. Selfs wanneer ons so angstig en oorstuur is dat ons nie weet wat of hoe om te bid nie, neem die Heilige Gees oor en tree vir ons in. Hy maak ons gebede bekend aan die Vader (Romeine 8:26).

Ons moet egter altyd in verbinding met ons Hemelse Vader wees, en nie net wanneer ons probleme het en nie weet waar om hulp te kry nie. Jesus het ʼn groot deel van sy lewe op aarde in gebed deurgebring en selfs noudat Hy in die hemel is, tree Hy vir ons in en pleit vir ons by die Vader.

Jesus leer ons dat ons ʼn Vader in die hemel het. Hy is altyd gereed om te luister en ons gebede te beantwoord.

Jesus leer ons — vra en daar sal vir ons gegee word, soek en ons sal kry, en klop en daar sal vir ons oopgemaak word. “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11).

Die Here wil net die beste vir ons hê. Hy is ʼn Vader wat omgee en op wie ons volkome kan vertrou.

In ons teks vir vandag is daar die belofte dat, as ons in gebed alles aan God bekend maak, alles waaroor ons besorg is sal verdwyn. Dan sal ons die vreugde van sy vrede ervaar.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS