Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 13

Die belofte van geloof

Bybelteks(te)

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

As ons maar almal die geloof kon hê van die Romeinse offisier wat in Kapernaum na Jesus gekom en Hom gevra het om sy slaaf, wat ernstig siek was, te genees.

Jesus het aangebied om die slaaf te besoek, maar die offisier het Hom so vertrou dat hy gesê het: “Sê maar net ʼn woord, en my slaaf sal gesond word”. Jesus was verwonderd oor hierdie antwoord en Hy het vir diegene wat by Hom was gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ʼn groot geloof teëgekom nie.”

In die Christelike godsdiens is geloof, hoop en liefde die belangrikste gawes. Geloof word meer as hoop en liefde in die Nuwe Testament genoem.

As ons doodeerlik wil wees, sal min van ons Christene ons geloof op dieselfde vlak as dié van hierdie offisier plaas. Die meeste van ons het iets in ons van die apostel Tomas na wie daar deur die eeue as “ongelowige Tomas” verwys word. Omdat ons twyfel, probeer ons dikwels om op ʼn intellektuele vlak dit wat ons glo te rasionaliseer.

Tomas was ʼn dapper man. Hy was selfs bereid om saam met Jesus te sterf (Johannes 11:16). Na die kruisiging kon hy egter nie aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het nie (Johannes 20:25).

Toe Jesus in die bokamer aan sy dissipels verskyn het, het Hy vir Tomas gesê om nie langer ongelowig te wees nie, maar om te glo.

Tomas het toe besef dat hy in die teenwoordigheid van die opgestane Here is en hy het gesê: “My Here en my God” — die wonderlikste belydenis in die Nuwe Testament.

Dit is die woorde wat ons almal moet bely. Soos Paulus moet ons ook bevestig: “Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Galasiërs 2:20).

Geloof is ʼn persoonlike verhouding wat ontstaan wanneer ʼn sondaar sy sondes bely en ʼn band met Christus smee.

Hoe bevoorreg is ons nie om deel te wees van God se familie nie, want: “Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen” (Psalm 145:17).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS