Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 14

Die belofte van die goddelike liefde

Bybelteks(te)

15Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

1 JOHANNES 4:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Almal van ons is individue in ons eie reg met ons eie unieke DNS. Ons kulture, tale en lewenstandaarde mag wyd verskil, maar ons het almal een behoefte in gemeen — ʼn verlange na liefde.

Dit is jammer dat daar diegene is wat soms uit vrees vir seerkry of verwerping hulle harte toesluit vir liefde en probeer om ʼn bestaan daarsonder te voer. Ons moet hulle baie jammer kry.

Die woord van God stel dit baie duidelik dat as ons geen liefde het nie, is ons niks en baat dit ons niks (1 Korintiërs 13:1-3).

Ongelukkig word die woord liefde so wyd in alledaagse taal gebruik dat die betekenis van die basiese tot die goddelike strek.

Die teks vir vandag beloof ons dat liefde die diepste aard van God is. God is liefde. God se liefde is die fondament van elke perfekte verhouding in die hemel en op aarde. Liefde verenig God, die aartsengele, die engele en die ganse gemeenskap van die hemel met God se kinders hier op aarde.

Christelike liefde is nie eksklusief nie. Dit is oop vir almal wat Jesus as die Seun van God bely. Dit alleen is die voorwaarde.

Jesus getuig van sy Vader se liefde vir Hom en Hy maak dit moontlik vir sy volgelinge om in daardie liefde te deel (Johannes 17:26).

Ons het die wonderlike belofte dat God self in ons woon en dat die Heilige Gees ons sal help om die twee grootste gebooie te onderhou: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself” (Lukas 10:27).

Sonder die Heilige Gees wat ons geloof versterk, sal dit absoluut onmoontlik wees om hierdie gebooie te onderhou.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS