God se beloftes – Dag 12
Die belofte van hoop
Bybelteks(te)
ROMEINE 15
Paulus het die brief aan die Romeine in ongeveer 55-56 n.C. in Korinte geskryf voordat hy na Jerusalem vertrek het om fondse na die gelowiges daar te neem. Hy stuur die brief met Febe, ʼn dienares, na Rome, maar hy sou eerder self wou gaan. Hy verlang om Rome toe te gaan om die evangelie daar te gaan verkondig.
Paulus het gehoop om ʼn basis onder sy vriende in Rome te vestig en wanneer dit gedoen was, met hulle ondersteuning na Spanje te reis om die goeie nuus van Jesus Christus daar te gaan verkondig.
Paulus se hoop het egter nie volgens plan verloop nie. Hy het wel daarin geslaag om twee jaar later in Rome aan te kom, egter nie op eie houtjie nie maar as ʼn verhoorafwagtende gevangene in kettings.
In die Bybel lees ons dat hoop een van die drie belangrikste geestelike gawes is. Die ander twee is geloof en liefde.
Eendag wanneer ons in die hemel is, sal die behoefte aan geloof en hoop wegval en net liefde sal oorbly.
Almal hunker na hoop — hoop op ʼn beter lewe, hoop op beter persoonlike verhoudings, hoop op genesing. Dit wat ons hoop word miskien nie altyd bewaarheid soos ons dit wil hê nie, maar ons het die voorreg dat ons toegang tot die grootste bron van hoop het.
Christus is die bron van hoop. Sonder Hom is daar geen hoop nie. Met Christus is daar altyd hoop, ongeag hoe desperaat ons omstandighede is.
Hoop is nie iets wat ons self kan bereik nie. Hoop is ʼn gawe van die Heilige Gees aan diegene wat in ʼn verhouding met Jesus is.
Dit maak nie saak onder hoeveel druk ons verkeer nie, die God van hoop beloof aan ons vreugde en vrede solank as wat ons op Hom vertrou.