Bible Society of South Africa
Neville Turley

God se beloftes – Dag 11

ʼn Opdrag en ʼn heilige belofte

Bybelteks(te)

38Gee, en vir julle sal gegee word:

'n goeie maat,

ingestamp, geskud en propvol,

sal hulle in julle hande gee.

Met die maat waarmee julle meet,

sal ook vir julle gemeet word.”

In vandag se teks word die opdrag in een woord vervat en die res van die teks bevat ʼn belofte wat deur God gewaarborg word.

“Gee” is ʼn woord wat dikwels in versoeke vir finansiële bydraes gebruik of geïmpliseer word. Dit mag ruim bydraes teweeg bring, of dit mag ervaar word as ʼn poging om mense wat al keelvol is om aanmekaar by te dra, te kry om nog geld te gee.

Dit is belangrik wanneer ons die Bybel lees om nie dinge in te lees wat nie daar staan nie. Jesus sê nie in hierdie teks dat ons geld moet gee nie. Hy sê slegs “gee”. Elke Christen het iets wat hy met ander kan deel.

As die Here jou met rykdom geseën het, en jy wil dit met ander deel, is dit wonderlik. Daar is egter baie ander maniere wat ons iets tot eer van God kan gee.

ʼn Kaapse koerant het op ʼn dag verslag gedoen oor ʼn 83-jarige pensionaris. Vanaf die balkon van haar woonstel op die sesde vloer van die ouetehuis, het sy gesien hoe haweloses daagliks sukkel om hulleself te was. Sy het aan ʼn manier gedink om hulle te help.

Sy het stukkies badseep wat gewoonlik weggegooi word by haar mede-inwoners versamel en haar voedselverwerker gebruik om vloeibare seep daarvan te maak. Sy het die vloeistof in 500 ml herwinbare melkbottels gegooi en netjiese etikette opgeplak voordat sy dit persoonlik onder die haweloses uitgedeel het.

Sy het dit meer as een keer gedoen. Sy help die haweloses nou al vir langer as ʼn jaar op hierdie manier en het ook begin om minderbevoorregte kinders te help.

Die Here vra ons om te gee, en om te gee word nie beperk tot materiële dinge nie. Oral om ons is daar mense wat ʼn behoefte het aan liefde, versorging, aanmoediging, inspirasie en hoop. Die lys is oneindig lank.

Maar wat ons ook al met ons menslike beperkings gee, belowe die Here dat Hy ons meer sal gee. Ons dien ʼn wonderlike, vrygewige Vader.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS