Bible Society of South Africa

Geroep om te dien – Dag 18

Om lyding te aanskou

Bybelteks(te)

Job: Wat is die mens?

1“Is 'n mens se lewe op aarde nie maar harde arbeid nie,

en sy dae soos dié van 'n dagloner nie?

2Sy lewe is soos dié van 'n slaaf wat smag na koelte,

soos dié van 'n dagloner wat verlang na betaaltyd.

3So bring ek my maande deur met swaarkry,

my nagte is net smart.

4As ek gaan slaap, dink ek:

wanneer kan ek opstaan?

Maar die nag sleep stadig verby

en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.

5My liggaam is oortrek van wurms, vol rowe en stof,

my vel is vol barste en dit etter aanhoudend.

6My dae loop vinnig soos 'n wewerspoel,

die draad raak gou op.

7Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net 'n asempie is;

ek sal nooit weer voorspoed beleef nie.

8Die oë wat my nou sien, sal my nie weer sien nie:

U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.

9Soos 'n wolk weggaan en verdwyn,

so gaan 'n mens dood en kom nie terug nie,

10hy kom nooit terug na sy huis toe nie,

en sy plek is vir altyd leeg.

11“Nee, ek kan nie stilbly nie,

in my beproewing wil ek praat,

in my bitter lyding wil ek kla.

12Is ek dan die see dat U my aan bande wil lê,

of 'n seemonster dat U my laat bewaak?

13As ek dink dat my bed my sal troos

of dat ek verligting van die pyn sal kry as ek lê,

14dan verskrik U my in my drome,

en oorval U my met nagmerries,

15sodat ek eerder verwurg

en dood sou wou wees as om te lewe.

16Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie;

laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.

17“Wat is die mens dat U soveel van hom maak,

dat U hom so op die hart dra,

18dat U hom van dag tot dag toets,

hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?

19Wil U nie van my af wegkyk

en my 'n oomblikkie laat asem skep nie?

20As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig,

U wat die mens gedurig oppas?

Waarom het U my u teiken gemaak?

Waarom moet ek vir U 'n las wees?

21Waarom vergewe U dan nie my sonde

en vergeet wat ek verkeerd gedoen het nie?

Binnekort sal ek in die graf lê,

U sal my soek, maar ek sal nie meer lewe nie.”

JOB 7:1-1:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape behandel word.”

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

ROMEINE 8:31-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

As versorger kom jy daagliks met lyding in aanraking: die lyding van diegene wat jy versorg, die hartseer van hul naasbestaandes en selfs jou eie pyn. Ons verstaan nie al die lyding wat ons rondom ons sien nie, en soms voel ons soos Job wat in sy lyding uitroep en probeer verstaan waarom sulke dinge met hom gebeur.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS