Dagboek 2021 – 9 Mei
Hanna se moederhart
Bybelteks(te)
1 SAMUEL 2
Hanna se ander kinders
Ten spyte daarvan dat ek weet dat Hanna Samuel aan die Here gewy het uit dankbaarheid, nadat sy so lank gesukkel het om swanger te word, het ek dit nog altyd moeilik gevind om haar en haar keuse te begryp. Hoe kan ’n ma haar kind so maklik weggee?
Dit was eers nadat ek hierdie gedeelte in 1 Samuel teëgekom het, en ek gelees het hoe sy elke jaar ’n linneskouerkleed gemaak en vir Samuel gebring het, dat ek uiteindelik vir Hanna begin verstaan het. Ek sien in my geestesoog hierdie ma, wat elke jaar sorgvuldig dit wat nodig is vir die nuwe mantel bymekaar maak. Hoe sy probeer skat hoeveel haar seun nou al gegroei het. Gaan dit oor sy skouers pas? Gaan dit lank genoeg wees? Hoe sy seker maak dit is gereed en ingepak vir die reis. Hoe sy dit by die tempel oor Samuel se skouers hang en ’n tree terug neem om te kyk na haar handewerk en haar seun. Hoe sy op hierdie manier al haar omgee en liefde vir haar seun wys deur vir hom ’n kleed te maak vir sy dienswerk in die tempel.
Eintlik het ek dit nog altyd verkeerd gehad, Hanna het nie “sommer net so” haar seun weggegee nie. Inteendeel. Ek dink dit was die moeilikste ding wat sy nog ooit gedoen het, maar ten spyte van hoe moeilik dit was, is Hanna ’n vrou wat ook lief is vir God en op Hom vertrou. Hanna het nie geweet watter rol Samuel later in God se reddingsplan sou speel nie, maar wat sy kón doen, is om in die hede op die Here te vertrou, volgens sy Wil te leef en haar seun te ondersteun in sy dienswerk.
Gebed
Here, op hierdie Moedersdag, sal U gee dat ons almal meer soos Hanna sal wees? Dat ons U sal liefhê en op U sal vertrou, al is dit moeilik en al weet ons nie hoe dinge gaan uitdraai nie. Amen.
Ds Erika Ferreira, Bellville