Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 Mei

God is liefde, so leef in liefde!

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 4

God is liefde

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

1 JOHANNES 4:7-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

God is liefde… Ons het almal al iewers in ons lewens hierdie stelling gehoor of gelees. Maar weet ons wat dit beteken? Wanneer ons van liefde praat, dink ons aan die wêreldse idee van liefde. Die soort liefde wat ons in films en advertensies sien. Of is daar ’n ander manier om dit te verstaan?

Die eerste brief van Johannes kan ons help om anders oor die liefde te dink. Die gemeenskap waaraan díé brief gerig is, is ’n gemeenskap in ’n krisis. Daar is konflik, valse leraars en verwarring. Tog is die oproep aan hierdie gemeenskap deurlopend: liefde. Die skrywer moedig nie die gemeente aan om die valse leraars aan te vat, te oorwin of uit die weg te ruim nie. Nee, hulle word gewoon aangemoedig om lief te hê soos wat Christus liefgehad het.

Maar daardie liefde is nie ’n maklike liefde nie. Dis nie geleë in onsself, in lekker emosies of hoe dit voordelig vir ons kan wees nie. 1 Johannes se verstaan van liefde is geleë in God. Ons kan God se liefde in die eerste plek in die Seun sien. God se liefde is nie ’n abstrakte konsep nie. Hy het sy liefde konkreet en teenwoordig gemaak toe Jesus na ons toe gestuur is om by ons te leef en vir ons te sterf. Hy wys steeds sy liefde vir ons deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees. God wys ons hóé Hy liefhet deur Jesus Christus. Ons hoef nooit te wonder of te twyfel daaroor nie. Dit laat ’n mens verstom. Voel God so oor my? Maar ek’t dan niks gedoen nie? Inteendeel! Ek het soveel foute!

Wanneer ons hierdie ondeurgrondelike en absolute liefde verstaan, kan ons nie anders nie as om dit ook aan ander te gee. Dus, wanneer ons God is liefde hoor, moet ons in ons gedagtes en harte byvoeg, daarom, lééf ek in liefde!

Ds Erika Ferreira, Bellville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS