Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 10 Mei

Die prys van dissipelskap

Bybelteks(te)

1 PETRUS 3

Dit is 'n voorreg om te ly vir wat goed is

13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

1 PETRUS 3:13-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die skrywer van 1 Petrus skryf aan gelowiges wat swaarkry onder verontregting, verdagmaking, boikotte en vervolging. Hierdie gelowiges is met agterdog en diskriminasie bejeën. Dit was so erg dat hulle wou tou opgooi. Sekerlik sal die lewe makliker wees as hulle maar net soos die mense rondom hulle is?

Mense, ongeag of dit in die tyd is toe die brief geskryf is of vandag, hou nie van swaarkry of sukkel nie, veral nie wanneer ons juis die goeie probeer doen nie! Dit kan ons laat voel dat dinge tevergeefs is en dat daar geen meer hoop is nie. So kies ons dikwels maar om eerder in te gee onder die druk wat die samelewing op ons uitoefen as om te bly by wat ons glo.

In hierdie gedeelte herinner die skrywer sy lesers dat alhoewel hulle op ’n goeie manier mag lewe en reg mag optree teenoor ander, hulle steeds kan ly vir hul geloof in God. Dit is totaal en al onregverdig, maar dit is hoe dit is. Ten spyte hiervan sê hy vir hulle om hul lewens aan die Here te wy. Om te ly vir dit wat goed is, is iets wat enigeen van hulle kan oorkom. Maar ons moet volhou in geloof – Christus móét die middelpunt van ons lewens bly!

Om ’n gelowige te wees, is geen versekering dat dit altyd goed sal gaan met ons nie. Ons lewens hier op aarde gaan dikwels nie maklik wees nie. Ons word gekonfronteer met hartseer, pyn en swaarkry. Maar te midde van dit alles moet ons onsself afvra: Getuig ons lewens van Christus se liefde en genade? Beywer ons onsself vir die goeie? Is ons gewetens skoon en het ons net heilige eerbied vir Christus ons Here in ons harte?

In jou stiltetyd kan jy by die volgende stilstaan:

  • Kan jy aan ’n voorbeeld dink waar jy as gevolg van druk jou Christelike waardes prysgegee het?
  • Hoe kon jy daardie situasie as ’n gelowige anders hanteer het?

Ds Erika Ferreira, Bellville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS