Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 9 Julie

Waarheen nou?

Bybelteks(te)

HANDELINGE 16

Die gesig in Troas

6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. 9Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

HANDELINGE 16:6-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus en Timoteus reis na die gebied van Frigië en Galasië omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om na Asië te reis. Ongewoon en vreemd! In die boek Handelinge stuur God die Heilige Gees om die apostels te begeester om oor Jesus Christus te getuig en die spoor van sy koninkryk tot in die uithoeke van die aarde te vestig. Verskeie gebeure bevestig die vreemde wyse waarop die Gees van God werk: Vreemde mense word hierby betrek, en die wyse waarop God sy mense stuur en gebruik, is altyd verstommend. Hoe hoor ons dan die stem van God? Is God se stem die aardbewing, die vuur of die fluistering in die windstilte, soos vir Elia in 1 Konings 19?

Die Woord van God bly altyd ’n gelowige se primêre rigtingwyser. Lees en bestudeer die Bybel en beplan in ooreenstemming met die Woord. Oordink die inhoud van die Woord en praat met die Here. Bid gereeld en stel jou lewe oop vir God. So dikwels bid ons om leiding terwyl ons eintlik reeds ’n ander plan volg! Ondersoek jou motiewe en bly bewus van jou egosentriese natuur.

Die Heilige Gees het Paulus twee keer na mekaar in Handelinge 16 verhinder om die evangelie op sekere plekke te gaan verkondig. Ontwrigting is dikwels die oomblik waarin God jou lewe in ’n ander rigting kan begin stuur. Jy sal nooit weet nie. As volgeling van Jesus bly ons gehoorsaam aan die Woord en leef ons gedissiplineerd. Die boek Handelinge leer ons dat God Hom op skouspelagtige wyse aan mense openbaar, en dat teenstand en vervolging daartoe bygedra het dat die evangelie vinnig en wyd versprei is. In die hart hiervan lê die oproep tot bekering: Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring (2 Tim 1:10).

Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien. Amen.
(Gesang 284: 3)

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS