Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 Julie

Watter taal praat jy?

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

Liefde vir die vyand

43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

MATTEUS 5:43-48AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. Die volmaaktheid waarna die teks verwys, is nie ’n verwysing na persoonlike volmaaktheid nie! Nie ’n poging om in my handel en wandel soos God volmaak te wees nie. Die bergrede bevat die riglyne vir ’n intieme verhouding met Jesus Christus: So moet dit lyk! Hierin word die koninkryk van God sigbaar gemaak vir die volgelinge van Jesus, die Seun van God.Volmaaktheid gebeur waar ’n gelowige die liefde van God deur die genade van ons Here Jesus onbegrens leef. Die volmaakte liefde van God leer ons om grenslose liefde met ander te deel.

Ons word in die bergrede opgeroep tot ’n radikale lewenstyl van navolging waar ons gesindheid en optrede uit ’n onverdeelde hart belangriker is as ’n wet wat slaafs nagevolg word. Hierdie lewenstyl is een waarin Jesus ander hoër ag as Homself! Volmaaktheid hou dus nie verband met ’n perfeksionistiese lewenstyl nie, maar met ’n gesindheid waarin iemand se hele hart op die totale lewe van God gerig is. Wees julle dan volkome en volledig in jul liefde, soos jul hemelse Vader volkome en volledig in sy liefde is. Hy het mos alle mense lief. Hy het my ook lief. Die liefde van God in my mag nooit gedegradeer word tot ’n doodgewone menslike reaksie op ander se liefde nie.

Die kerk van die Here word in ’n vreemde tyd opgeroep tot hernude lojaliteit aan die Persoon en saak van Jesus. Die Gees van Jesus vul ons harte met hierdie gawe wat helend en lewensveranderend in die wêreld werk. Liefde is seker die kragtigste taal waarin ’n gelowige kan preek en getuig van die heil wat in ons leef.

Soek allereers die koninkryk van God; en sy geregtigheid.
Wat julle nodig het sal die Vader dan vir julle gee uit sy oorvloed.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! Amen.
(Gesang 471)

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS