Dagboek 2021 – 9 Augustus
Gebruik wat jy het
Bybelteks(te)
LUKAS 16
Die gelykenis van die oneerlike bestuurder
Gelowiges en ongelowiges deel baie dinge in die lewe, onder andere geld en besittings. Die verskil kom by wat jy daarvan maak en hoe jy dit gebruik. Dit is nogal opvallend dat Jesus ’n paar maal in die Evangelies uit die ongelowige wêreld voorbeelde gebruik om vir sy volgelinge iets positief te leer, soos hier en in die voorbeeld van die ongelowige regter van Lukas 18.
Jesus vertel hierdie gelykenis om te leer hoe ’n mens jou geld en goed reg moet gebruik in die koninkryk van God. Die bestuurder wat deur die ryk man ontslaan word oor sy verkwisting, het nie in die eerste plek homself verdedig of verskonings aangebied nie. Hy het die werklikheid en sy eie voorkeure onmiddellik in berekening gebring en planne gemaak. Die oneerlike afskryf van skuld moet vir hom vorentoe welwillendheid koop. Die mense wat hy nou help, moet vorentoe vir hom sorg. Die werkgewer het hom geprys, nie oor sy verkwisting nie, maar oor sy slim planne.
Nou sê Jesus gelowiges moet ook die oneerlike Mammon, dit is geld en goed, gebruik om vriende te maak, sodat hulle in die ewige wonings ontvang sal word. Geld en goed word net ’n mammon as die een wat dit het dit in selfsugtigheid net vir hom- en haarself hou, en dit ten alle koste wil vermeerder ter wille van selfsug en hebsug.
Wat ons het, het ons ontvang om van te leef en ook te laat leef. Geld en besittings word net negatief, en dus die oneerlike Mammon, as dit vir ons ’n god word, ’n verslawing. Dit gaan nie oor hoeveel jy het nie, maar dat jy dit het en dat jy selfs die bietjie wat jy het, kan deel met dié wat nie het nie. Per slot van rekening gee aardse besittings maar kortstondige vreugde. Die dag as jy sterf, verloor dit alle waarde en betekenis. Jy koop aan die ander kant ook nie jou ewige wonings deur uit te deel nie. Jy deel uit sodat ander ook die vreugde van die ewige wonings kan ervaar.
Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop