Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 10 Augustus

Onregverdig?

Bybelteks(te)

MATTEUS 20

Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

1“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ 5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

MATTEUS 20:1-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al opgelet hoeveel mense gesteld is op die beginsel van regverdigheid? Die hele beginsel van menseregte is op dié beginsel gegrond. Dink maar aan jonger kinders wat hewig kan reageer as hulle voel hulle word onregverdig behandel. Wie besluit in elk geval wanneer iets regverdig is? Selfs verklarende woordeboeke is maar vaag as hulle die betekenis van regverdig verklaar – regmatig, onpartydig, billik, eerlik. By al hierdie woorde speel die mens se subjektiewe oordele ’n rol.

In die paar verse direk voorafgaande aan hierdie gelykenis, vra die dissipels vir Jesus wat hul beloning sal wees vir die feit dat hulle alles prysgegee het om Hom te volg. Jesus verseker hulle dat hul beloning baie groot sal wees en sluit dan daardie deel van die gesprek af met: Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste. Nou vertel Hy met hierdie gelykenis hoe dit in die koninkryk van God werk. In die Joodse tradisie is geglo dat God ’n mens beloon vir hoe hard jy vir Hom werk. Jesus wil egter met hierdie gelykenis iets anders by sy hoorders tuisbring.

Die beginsel van produktiwiteit word gehandhaaf, maar die beginsel van beloning werk anders, genade en deernis speel’n deurslaggewende rol. Die eienaar van die wingerd kom met die eerstes wat hy huur ooreen op ’n dagloon, die ander wat hy negeuur, twaalfuur en drieuur huur, op wat billik is. Die verwagting is dus dat dit ’n pro rata-betaling sou wees, toe egter nie. Alle aanduidings is dat dit ’n tyd van groot werkloosheid was en dat die bestaansnood groot was. Logies gesproke verstaan ’n mens die ontsteltenis van die eerste gehuurdes, maar die punt bly dat die eienaar hulle nie verneuk of te na gekom het nie. Waaroor ooreengekom is, is hulle betaal.

Jesus se genade is vir almal bedoel, so word hierdie gelykenis omraam deur hierdie woorde: So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste. Daar is nie ’n rangorde van wie die meeste of die minste gedoen het nie, maar vir wie is Jesus Christus se genade bestem?

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS