Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 Augustus

Wat maak saak?

Bybelteks(te)

MATTEUS 13

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

24Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

MATTEUS 13:24-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 13

Verklaring van die gelykenis van die onkruid

36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.

“Wie ore het, moet luister.”

MATTEUS 13:36-43AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Mens se opvoeding en grootword binne ’n bepaalde kultuur speel onvermydelik altyd ’n rol in jou lewe, al het jou lewe heeltemal verander. Jesus weet dat die mense vir wie Hy hierdie gelykenis vertel, uit ’n godsdienstige agtergrond kom wat gevorm is deur die Fariseërs en skrifgeleerdes. Die wet en profete het ’n groot rol gespeel. Dit was ’n geloof gebou op ’n uitgebreide klomp reëls en regulasies, moets en moenies. ’n Ding is reg of weg, oordele oor ander mense word maklik gemaak en gestraf. Die geloofsgemeenskap was uitverkore en verhewe bo ander.

Die nuwe geloofsgemeenskap wat deur Jesus se lewe en werk tot stand kom, word hier vergelyk met goeie saad wat in ’n land gesaai word. Die verwagting is dus groot, ’n nuwe uitverkore groep wat deur niks en niemand bedreig sal word nie. Die onkruid, die bedreiginge, is toe van die begin af net soveel deel van hul lewenswerklikheid as die geloof waarin hulle gevestig is. Die slawe van die boer voel dat dit wat nie daar hoort nie, moet uit, dit gaan die groei van die goeie saad belemmer. Wanneer die mens egter regter wil speel oor ander en wil straf, is die risiko dat ook die goeie in die slag gaan bly. Gelowiges en ongelowiges bewoon dieselfde wêreld. Hulle het deurlopend met mekaar te doen en beïnvloed mekaar. Die wortels van die goeie saad en onkruid is immers met mekaar verstrengel.

Die Fariseërs het verwag dat daar met die koms van die Messias ’n groot suiwering van gelowiges wat hulle bekeer en ’n verplettering van die ongelowiges sou plaasvind. Jesus leer ons egter deur hierdie gelykenis dat ons verdraagsaamheid en geduld aan die dag moet lê. Die groot suiwering sal eers by die voleinding plaasvind. Nou is die fokus op die goeie saad en om standvastig te bly in die geloof. Ons bly bewus van die bose wat in verskillende vorme na ons toe kom, en ons moet nie toelaat dat dit die aandag van ons roeping aftrek nie.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS