Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 7 Mei

Om die dood kalm te kan oordink

Bybelteks(te)

PSALMS 49

Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word nie

1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2Luister hierna, al julle volke,

gee aandag, julle almal wat die wêreld bewoon,

3elke mens, sonder uitsondering,

ryk en arm!

4My mond gaan suiwer wysheid praat;

wat ek gaan sê, sal van insig getuig,

5want ek hoor 'n woord wat my wysheid gee

en terwyl ek op die lier speel, wil ek 'n geheimenis verklaar.

6Waarom sou ek my in moeilike tye kwel

as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs,

7van mense wat net op hulle besittings vertrou

en met hulle groot rykdom spog?

8Een mens kan tog nie 'n ander loskoop van die dood

en aan God 'n losprys vir hom betaal nie?

9Die prys vir 'n mens se lewe is te hoog.

Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees

10dat hy vir altyd sal lewe

en die dood nooit sal smaak nie.

11Elkeen sien dit tog:

wyse mense sterwe net soos dwase en sotte,

en laat hulle besittings aan ander na.

12Die graf is vir altyd hulle tuiste;

van geslag tot geslag is dit hulle woonplek,

al het hulle eenmaal grond op hulle naam gehad.

13Met weelde en al leef die mens nie vir altyd nie;

soos die diere, so kom die mens ook tot 'n einde.

14Dit is die lot ook van mense wat op hulleself vertrou,

die uiteinde van dié wat ingenome is met hulleself. Sela

15Soos skape is hulle bestem om te sterwe;

die dood is hulle wagter.

Sonder meer daal hulle in die graf in;

in die doderyk verdwyn alles waarop hulle vertrou het;

vir hulle bestaan dit nie meer nie.

16Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood;

ek sal aan Hom behoort. Sela

17Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word,

dat hulle besittings baie word nie,

18want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie;

hulle besittings sal hulle nie volg nie.

19Al verlustig 'n mens hom in 'n voorspoedige lewe,

en al prys die mense hom omdat dit met hom goed gaan,

20soos sy voorvaders sal ook hy moet sterwe

en hy sal die lig nooit weer sien nie.

21Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly,

is soos 'n dier wat vergaan.

Psalm 49 is geskryf in die wysheidstradisie van Spreuke en Prediker. Die skrywer kom tot die slotsom dat dit nie saak maak wie jy is nie, want wyse mense sterwe net soos dwase en sotte, en laat hulle besittings aan ander na (vers 11). Maar die Psalmdigter word nie mismoedig deur hierdie sombere nadenke oor die dood nie, want hy vertrou dat die Here hom sal loskoop uit die mag van die dood (vers 16).

Die vertroue dat God die Psalmdigter sal red uit die mag van die dood, laat hom toe om sy eie afsterwe met groot kalmte te oordink. Psalm 49 is kenmerkend van ’n ontwikkeling in die ou Israeliete se denke oor die lewe na die dood. Hulle het geglo dat alle mense na hul dood, ongeag daarvan of hulle goed of sleg was, na ’n skaduagtige plek gaan om daar ’n skynbestaan te voer. Daarom dat Psalm 88:12 vra: Word daar in die graf vertel van u troue liefde? En Job 14:10 sê: …die mens sterf en verdwyn.

Die ontwikkeling van die Joodse verstaan van die lewe na die dood mond uit in Christus se aankondiging in Johannes 14 as Hy sê dat Hy vooruitgaan om vir ons ’n plek gereed te maak by sy Vader. Die dood is vir ons as Christene nie hierdie onpersoonlike gebeure nie, maar word intens persoonlik gemaak deur ons Here Jesus Christus. Nie net het ons die vertroosting wat die Psalmdigter het dat God ons sal red van die dood nie, maar deur Christus se genade word ons soos ’n kind ontvang in die huis van die Vader.

Nou kan ons net soos die Psalmdigter die dood vierkantig in die oë kyk en hoef ons nie bedroef te wees nie. Maar meer as dit, ons kan ons lewens leef met ’n nuwe vooruitsig. ’n Vooruitsig gegrond in die wete dat Christus vir ons ’n heerlike toekoms gereed gemaak het by sy Vader. Daarom kan ons saam met Paulus bely: Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? (1 Kor 15:55).

Ds Willem Dreyer, Delareyville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS