Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 7 Julie

Om Christus te ken, is meer werd as enigiets anders

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 3

Die ware geregtigheid

1Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.

2Pas op vir daardie dwaalleraars;

pas op vir daardie mense wat kwaad stig;

pas op vir daardie betekenislose besnydenis!

3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer:

FILIPPENSE 3:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Is dit regtig moontlik dat ’n mens se gebruike en gewoontes belangriker kan wees as om Jesus Christus te ken? Die Skrifgedeelte bevestig dat dit wel moontlik is dat ’n gelowige sy of haar intieme verhouding met ons Here sekondêr kan stel aan ander oënskynlik belangrike dinge. Ek onthou die twis- en strydgesprekke in die kerk toe ek nog ’n jong seun was oor hoede, kleredrag, Nagmaalkelkies en ander sake. Dit kan so maklik vir die kerk net om die gebruike en belange van die kerk gaan! Die teoloog Karl Barth herinner die kerk daaraan dat die kernoorsaak van baie probleme en krisisse in die kerk nie aan eksterne omstandighede en gebeure toegeskryf kan word nie, maar aan die kerk se eie onvermoë om werklik kerk te wees.

Die valse leraars in die gemeente van Filippi het daarop aangedring dat die nie-Joodse bekeerlinge steeds die wette en gebruike van die Jode moes nakom en het die besnydenis as voorwaarde tot werklike bekering gestel. Niks kan ’n persoonlike verhouding met die lewende Here vervang nie. Niks kan in die plek daarvan gestel word nie. Geen gebruik of ritueel kan vir die hart van God instaan nie! Paulus bevestig in Kolossense 2: 11 dat ’n gelowige deur sy of haar verbondenheid met Jesus Christus inderdaad ook besny is. Hierdie besnydenis beteken dat God deur Jesus die sondige natuur van die mens weggesny het. Die besnydenis van die hart (Ro 2:29) kom net deur die Gees.

Christus Jesus oortref alles in waarde. Niks is belangriker as om in ’n verhouding met die Here te leef nie. Hierop kan ’n mens nie roem nie. Ons is een met Christus op grond van sy vryspraak. Nie omdat ons wette en gebruike gehoorsaam nie, maar omdat Hy ons liefhet.

O Heil’ge Gees, ons bid U weer – Gees van ons Vader en ons Heer –
maak van ons hart u woning!
O Lig van God wat in ons skyn; die donker in ons laat verdwyn –
kom vul u tempelwoning!
Kom, Heer, ons Heer; en versier ons met u deugde,
gee ons vreugde.
(Gesang 432: 2)

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS