Dagboek 2021 – 7 Augustus
Maak ’n verskil
Bybelteks(te)
MATTEUS 13
Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
As ’n mens hierdie gelykenis goed wil verstaan, is dit ook belangrik om jou in te dink hoe die mense wat na Jesus geluister het, se koppe gewerk het. Wat was hul verwagting? Hulle het waarskynlik gedink die koninkryk van God gaan met rasse skrede groei en die getalle wat Jesus volg, gaan drasties toeneem. En toe gebeur dit nie.
Dit gaan nie in die eerste plek oor getalle in die gelykenis nie, oor hoeveel mense uiteindelik in Jesus glo nie, maar wat doen die mense wat wel in Jesus glo, en wat verstaan hulle onder die koninkryk van God? Die mosterdsaadjie as sodanig is eintlik niks, dit maak nie ’n indruk nie en word nie geag nie. Dit is die langtermyneffek, die uiteindelike uitkoms wat tel. Jesus sou waarskynlik vir die mense om Hom kon sê: Julle is reg, alles begin by My maar heel klein. Oppervlakkig gesproke staan Ekself en my werk in die teken van die minimum.
Jesus praat nie daarvan dat die Christendom die wêreld moet verower, asof die hele wêreld net uit Christene moet bestaan nie. Dit gaan vir Hom om die geheim van die groei van die koninkryk. Dit gaan om die krag wat Christene uitstraal. Dit is die dinamika en die lig wat ons uitstraal, wat die wêreld aangryp.
Die gelykenis van die suurdeeg onderskryf hierdie beginsel en bou dit verder uit. Die klein bietjie suurdeeg het invloed op die groot hoeveelheid meel. Dit is amper soos vitamiene vir die wêreld wat die kwaliteit van die lewe verbeter.
Christene is in die lig van die massas in die wêreld eintlik maar ’n klein, onaansienlike groepie. Martin Luther het hulle vergelyk met ’n eensame voël wat iewers op ’n dak sit, maar wat deur sy mooi voëlgesang die wêreld beïnvloed. Dit gaan dus nie om Christelike kerke se getalle wat toeneem nie, maar of daar groei te sien is by Christene in die vervulling van hul roeping in die wêreld.
Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop