Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 6 Mei

Dank die Vader dit het nie gebeur nie

Bybelteks(te)

PSALMS 48

Die stad van die Groot Koning

1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete.

2Die Here is groot!

Aan Hom kom al die lof toe

hier in die stad van ons God,

hier op sy heilige berg,

3mooi, hoog geleë, en 'n vreugde vir die hele aarde,

Sionsberg teen die noorde,

die stad van die Groot Koning.

4In hierdie goed versterkte stad

het God Hom as beskermer geopenbaar.

5Konings het bymekaargekom

en as een mag opgetrek,

6maar skaars het hulle die stad gesien

of hulle het bang geword

en verskrik op die vlug geslaan.

7Angs het hulle daar beetgepak,

vrees soos dié van 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring,

8angs soos toe U met die oostewind

die skepe van Tarsis verpletter het.

9Soos ons daarvan gehoor het, het ons dit self ervaar

hier in die stad van die Here, die Almagtige,

in die stad van ons God,

die stad wat Hy vir altyd vas laat staan. Sela

10Hier in u tempel oordink ons u trou, o God.

11Net soos u Naam, o God, so strek u lof oor die hele aarde.

U mag het groot redding gebring.

12Sionsberg moet bly wees,

die stede van Juda moet oor u reddingsdade juig!

13Gaan om Sion, trek reg rondom,

tel sy torings,

14bewonder sy mure,

bekyk sy versterkings,

sodat julle dit aan 'n volgende geslag kan vertel!

15Dié God is ons God vir altyd;

Hy sal ons altyd lei.

Alle mense is dankbaar as daar iets goed met hulle gebeur. Maar was ons al ooit dankbaar vir iets wat nie gebeur het nie? Dink net vir ’n oomblik oor alles wat verkeerd kon gaan in jou lewe. Die waarheid is dat daar te veel is wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Sonder dat ons eens bewus is daarvan, het God ons teen soveel swaarkry beskerm. As ons dan vir God dankie sê vir die goeie wat met ons gebeur, moet ons nie dalk ook dankie sê vir die slegte wat nie met ons gebeur nie?

Psalm 48 is geskryf nadat Jerusalem ’n aanval oorleef het, waarskynlik dieselfde aanval van Sanherib waarna Psalm 46 verwys. Maar Jerusalem het die aanval oorleef en die Psalmdigter roep die inwoners op om rondom die stad te stap en te sien dat die stad geen skade gehad het nie. Om opnuut dankie te sê dat God die stad beskerm het, dat die stad nie, ten spyte van ’n oormag, geval het nie.

So leer ons ’n belangrike les oor dankbaarheid. Nadat Jerusalem vernietiging vrygespring het, het die meeste van die inwoners partytjie gehou. Sommige, onder wie die Psalmdigter, het egter na die tempel toe gegaan. Hier in u tempel oordink ons u trou, o God (vers 10).

Dieselfde gebeur as die Here Jesus die tien melaatse mans genees (Luk 17: 11-19). Jesus beveel die mans om na die tempel toe te gaan om te laat bevestig dat hulle genees is. Soos die mans wegstap, word hulle gesond. Nege haas hulle tempel toe, want hulle wil aangaan met hul lewens, maar een draai om, en gaan terug na Jesus toe om Hom te bedank.

Die Psalmdigter het tyd afgestaan om God eers te dank voordat hy by die feesvieringe aangesluit het. Die een melaatse het ook eers die tyd afgestaan om terug te gaan en God te dank. Ons moet ook tyd maak om God te dank en te aanbid vir al die goeie in ons lewens en, ja, ook vir al die slegte wat God van ons afweer.

Ds Willem Dreyer, Delareyville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS