Dagboek 2021 – 7 Junie
Die Heilige Gees en toewydingstaal
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 1
Bevordering van die evangelie ondanks gevangenskap
Ons kyk nog na die werk van die Heilige Gees en hoe die Heilige Gees op ’n unieke wyse met elkeen van ons praat. Vandag hoor ons hoe die Heilige Gees met ons praat in die taal van toewyding.
Paulus skryf hierdie brief vanuit die gevangenis aan die gemeente van Filippi. Indien ’n mens jou ’n bietjie in Paulus se situasie sou plaas en daaraan sou dink dat hy in die tronk sit en dat die doodstraf moontlik vir hom wag, is dit vreemd om te lees hoe blymoedig hy was. Ten spyte daarvan dat dit op hierdie oomblik met hom nie goed gaan nie, is hy steeds toegewyd aan sy roeping en opdrag. Hy fokus nie op die tronk en dit wat hy ervaar nie. Paulus bly gefokus op die verkondiging van Christus ten spyte van dit wat met hom gebeur en waar hy is.
Paulus het die taal van toewyding verstaan. Hy het in die tronk nie opgehou om die evangelie te verkondig nie, en daarom bevind hy hom in ’n tweestryd. Sy verhouding met Christus maak dat hy graag na Christus toe wil gaan. Tog, indien hy bly lewe, kan hy aanhou om die evangelie aan meer mense te verkondig. Sy toewyding aan die opdrag van Christus bring hom in ’n tweestryd as hy verby die oomblik se swaarkry kyk en eerder fokus op die verheerliking van Christus. Nie net was Paulus toegewyd aan sy roeping om Christus te verkondig nie, hy was ook toegewyd aan die bediening in die gemeente van Filippi. Hy was die gemeente se herder wat hulle wou beskerm en versorg.
Hoe toegewyd is ons in die uitlewing van ons geloof? Rig ons ons gedagtes op dit wat waar, edel, reg, rein en prysenswaardig is? Want alleen wanneer ons in toewyding aan Christus lewe, kan ons die vrede van Christus ervaar wat alle verstand te bowe gaan.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas