Dagboek 2021 – 6 Junie
Die Heilige Gees en aanvaardingstaal
Bybelteks(te)
HANDELINGE 10
Petrus se toespraak by Kornelius
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
Ons kyk nog na die werk van die Heilige Gees en hoe die Heilige Gees op ’n unieke wyse met ons elkeen praat. Vandag hoor ons hoe die Heilige Gees met ons praat in die taal van aanvaarding.
In ons gelese gedeelte kom ’n mens agter dat Petrus aanvanklik gedink het dat Jesus net gekom het vir diegene van Joodse afkoms. In sy toespraak verwys hy baie na Israel en hoe Jesus deur die hele gebied wonders gedoen en mense genees het. Jesus self het egter by geleentheid die dissipels opdrag gegee om nie na die heidennasies toe te gaan nie. Met Jesus se sterwe, opstanding en hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, het daar egter ’n verandering gekom. Net voor Jesus se hemelvaart gee Hy opdrag dat die apostels getuies moet wees van Jerusalem tot aan die uithoeke van die aarde.
Nadat Petrus die visioen van die doek met die diere gesien het, kry hy die opdrag dat die evangelie ook aan ander volke verkondig moet word. Met die bekering van Kornelius en sy gesin en die uitstorting van die Heilige Gees op hulle, besef Petrus dat Christus ook vir ander volke gesterf het en nie onderskeid maak tussen mense nie. Petrus leer iets van die aanvaarding van ander mense en dat God ook ander mense lief het. Dit wat op pinksterdag begin het met die uitstorting van die Heilige Gees, gebeur hier as ander mense as Jode die evangelie van Christus aanvaar.
Verstaan ons die taal van aanvaarding, en as ons dit verstaan, wat doen ons? Somtyds is dit vir ons moeilik om mense wat anders as ons is, te aanvaar. Soos wat Christus nie onderskeid gemaak het nie, mag ons ook nie onderskeid maak nie. Wie is anders as ons en wat maak hulle anders? Leer om ander te aanvaar en hulle met respek te behandel.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas