Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 Junie

Die Heilige Gees en openbaringstaal

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 2

Die boodskap aan Efese

1Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:

So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:

2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.

4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.

5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.

7Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

DIE OPENBARING 2:1-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is nog besig om te kyk na die werk van die Heilige Gees, en vandag kyk ons vir die laaste keer hoe die Heilige Gees op ’n unieke wyse met elkeen van ons praat. Die taal van openbaring is die wyse waarop die Heilige Gees die wil van God aan ons bekend maak.

Met die skryf van die brief aan die gemeente van Efese sê Christus vir Johannes op die eiland van Patmos dat Hy die gemeente baie goed ken. Efese was ’n groot handelstad waar verskeie handelsroetes bymekaar gekom het, met die gevolg dat mense van verskillende kulture en godsdienste daar gewoon het. Tog was die gemeente ten spyte van die heidense omgewing waarin dit geleë was, bekend vir hul arbeid en volharding. Hulle het dus as gemeente goed gefunksioneer. Christus wys die gemeente egter daarop dat alles nie reg is nie. Hul liefde vir Hom het verflou. Hulle het Hom nie meer so lief soos in die begin nie en daarom word die gemeente opgeroep om hulle te bekeer. Hulle word aangespoor om te luister na wat die Gees vir hulle sê. Nie net word die gemeente deur die skrywe van die brief gewaarsku nie, hulle word ook daarop gewys dat die Heilige Gees die wil van God aan hulle geopenbaar het. Aangesien die Heilige Gees op ’n unieke wyse in die gemeente werksaam is, kan hulle die Here liefhê soos in die begin.

Soos wat die Heilige Gees met die gemeente in Efese praat, so praat die Heilige Gees vandag ook met ons as liggaam van Christus. Christus is die Hoof van die liggaam en ons die lede, en die Gees woon in ons en openbaar die wil van God aan ons. Wat word aan ons geopenbaar? Hoe dink die Here oor ons? Indien hierdie brief vandag aan ons geskryf word, wat sal die Here vir ons sê?

Mag ons die Here dien met hart en siel en verstand.

Dr Martin Janse van Rensburg, Delmas

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS