Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 6 Julie

Altyd by my!

Bybelteks(te)

PSALMS 139

U omsluit my van alle kante

1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.

Here, U sien dwarsdeur my,

U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

5U omsluit my van alle kante,

U neem my in besit.

6Dié wete oorweldig my,

dit is te hoog vir my begrip.

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie

en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm,

my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

15geen been van my was vir U verborge

toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,

toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God!

Gaan weg van my af, julle moordenaars!

20Dit is hulle wat bose planne teen U smee,

wat so vals teen U optree.

21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here,

moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?

22Ek haat hulle met 'n uiterste haat,

want hulle is ook my vyande.

23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,

ondersoek my, sien tog my onrus raak.

24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie

en lei my op die beproefde pad!

Daar is oomblikke in die lewe wat ons uitdaag om diep oor die lewe en die dood na te dink. Die gebed in Psalm 139 is persoonlik en intiem: ’n gebed in stilte waar die siel van die mens en God alleen saam is. ’n Plek waar die mens sy of haar hart voor God kan oopmaak.

Die Psalmdigter word deur bepaalde omstandighede uitgedaag, en hy smeek dat God hom daarvan sal bevry. Daar is soms gebeure wat ’n mens se lewe kragteloos en leweloos laat. Die Psalmdigter het as mens geen antwoord vir en verweer teen sy klaarblyklik aggressiewe opposisie nie! Sy enigste verweer teen die aanslae van die lewe is om hom tot God te rig met die wete dat God reg rondom en in hom teenwoordig is!

Miskien is dit wat die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 1 wil sê: Wat is die gelowige se enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek aan Jesus Christus behoort! Die omvang, volledigheid en totaliteit van God se teenwoordigheid word in die lewe van die gelowige gevestig deur die werklikheid dat Hy my ken en alles van my weet. Dat God alles van my weet, bekragtig die persoonlike verhouding waarin ek tot Hom staan en wat soos ’n goue draad deur die Psalm loop. Ek kan niks vir Hom wegsteek nie! My diepste geheime is aan Hom bekend! Dit is onmoontlik om die deurdringende teenwoordigheid van God se Gees te ontvlug. Selfs die verste uithoeke van die Ou Testamentiese mense se wêreld (hemel en doderyk, Ooste en Weste) is steeds binne God se bereik!

Die misterie van God se alomteenwoordigheid raak die Psalmdigter se lewe ten diepste. God het die digter se vormlose ledemate gesien en dit kunstig aanmekaar geweef. Hy het my gemaak en ek behoort vir altyd aan hom. Sy asem en Gees vul my lewe met liefde en vrede.

Nader, my God, by U, nog naderby.
U is om Christus wil Vader vir my.
U liefde bly my by – nader, my God, by U,
nader, my God, by U, nog nader by.
(Gesang 512: 1)

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS