Dagboek 2021 – 6 Augustus
Min of baie
Bybelteks(te)
LUKAS 16
Die ryk man en Lasarus
Die gelykenis van die ryk man en Lasarus het oor die eeue baie dinge vir baie mense beteken. Sommige interpretasies het tot wanvoorstellings oor die hemel en hel, of oor ryk en arm, gelei. Dit bly altyd ’n uitdaging om vas te stel presies wat die boodskap is wat deur ’n gelykenis gekommunikeer word. Hoofsaaklik bestaan ’n gelykenis uit ’n beeld-en-saak-helfte, met ’n punt van vergelyking wat die boodskap waaroor dit werklik gaan, oordra.
Met dit as vertrekpunt, weet ons hierdie gelykenis gaan nie oor hoe dit in die hemel of hel lyk, asof die miljarde gelowiges wat sterf in ’n ereposisie langs Abraham gaan sit, of vanuit die hemel en hel mekaar gaan beloer nie. Net so is arm mense nie onvoorwaardelik beter af as ryk mense in die ewigheid nie.
Hierdie gelykenis wil mense se aandag vestig op die rol van die Bybel en ons reaksie daarop. Die ryk man, kan ons aflei, het in sy aardse lewe die Woord van God geken, maar hom nie daaraan gesteur nie. Nou in die doderyk wil hy onderhandel, eers vir homself, en toe dit nie werk nie, vir sy oorlewende broers, sodat hulle die Woord ernstig sal opneem en sal doen wat die Woord leer.
’n Mens bou nie jou geloof op die een wonderwerk na die ander nie, asof die buitengewone jou moet oortuig om te glo. As mense nie na Moses en die profete, of in ons taal, na die Bybel luister nie, sal hulle ook nie oortuig word deur iemand wat uit die dood opgestaan het nie. Die arm man is nie in ’n ereposisie omdat hy arm was nie, maar omdat hy bly hoop en glo het en volhardend by die deur van die ryk man bly wag het. Net so is daar baie rykes wat in eenvoud op die Here vertrou en besef, dit wat hulle het, is genade. Dit sal dan ook hulle wees wat uitdeel en sorg dat armes dit makliker het.
Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop