Dagboek 2021 – 5 Mei
God is koning van die hele aarde
Bybelteks(te)
PSALMS 47
God is bo almal verhewe
Wat bedoel ons as ons sê die Here is koning? Die antwoord is dat niemand werklik weet nie. Die Bybel vertel ons nie van God se bestuurstelsel nie. Die skrywer van Psalm 47 weet net so min soos ons hoe God regeer, maar dit verminder nie sy geloof dat God in beheer is nie. Die wêreld draai nie op sy eie nie en is net so min oorgelaat aan blote geluk, want ons weet: Hy is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3).
Die Psalm verheerlik God as die koning oor die ganse aarde, en alhoewel ons nie weet hoe hierdie koning se regering lyk nie, is die geloof in God se heerskappy een van die fundamentele eienskappe van ons godsdiens. Maar wat is die gevolge van God se koningskap vir ons verhouding met ons medemens?
Die Jode het ’n gebruik om nooit op ’n papier te trap nie, maak nie saak hoe klein dit is nie, vir ingeval die Naam van Here daarop geskryf staan. Net so behoort ons ook op te tree as ons met ander mense te doen kry. Die feit dat ons nie hul verhouding met God kan sien of ken nie, beteken nie dat God nie met hulle ’n pad stap nie. God staan in verhouding met elke mens op aarde, en ons sien dit in Jesus se optrede hier op aarde. Voor sy intog in Jerusalem waar Jesus soos ’n koning ontvang word, stop Hy eers om tyd deur te bring met Saggeus, die hooftollenaar, die groot sondaar van Jerigo (Luk 19: 1–10). Hy, die koning van die heelal, maak tyd vir elkeen van ons, sondaars. Hoe hanteer jy mense wat oor jou pad kom? Hoe hanteer jy hulle wat onder jou aangestel is?
Ons weet nie hoe lyk God se regering in die hemel of op aarde nie. Maar in Christus het ons ’n voorbeeld van hoe Hy sy onderdane hanteer. So kan ons ook sy koninkryk help uitbrei totdat elke volk hulle sal verenig met die volk van God (vers 10).
Ds Willem Dreyer, Delareyville