Dagboek 2021 – 5 Julie
God se deernis bring jou in beweging
Bybelteks(te)
MATTEUS 15
Die tweede vermeerdering van die brood
Jesus voed vir die tweede keer ’n groot skare mense op wonderbaarlike wyse by die see van Galilea. Hier word Hy deur duisende mense omring wat elk deur hul omstandighede in bepaalde nood verkeer: verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander. Op ’n gegewe tyd is Jesus diep geraak deur die mense se broodnood: Ek kry hierdie mense innig jammer … hulle het niks om te eet nie.
Hierdie bewuswording was veel meer as net om van die probleem kennis te neem. Die leierskorps het nie net ’n behoorlike evaluasie gedoen en die statistieke op datum gebring nie! Hierdie bewuswording van mense se nood lê op ’n ander vlak, en Jesus leer ons hoe om met die nood van ander te handel. Jesus voel die mense se nood aan sy lyf! Die Griekse woord wat in ons gelese gedeelte met innig jammer vertaal is, het die volgende betekenis: om ten diepste met die nood van ander mense te konnekteer en te identifiseer. Om deernis met ander te hê en deur hul nood in beweging gebring te word. Dit wil tog voorkom asof iets hier binne-in my roer.
Hoe help ons almal om ons terwyl die nood so groot en sigbaar is? Ons voel dikwels soos Jesus se dissipels magteloos en vol wanhoop. Terwyl ons verslae staan en toekyk, bring Jesus se hart en deernis Hom in beweging! Die vermeerdering van sewe brode en twee visse is die wyse waarop ons Here op hierdie nood reageer.
Iets van die barmhartigheid van God leef voort in die lewe van elke gelowige en sy of haar geloofsgetuienis! Mag die wonder van God se omgeehart ook in jou hart gebeur. Mag ons te alle tye barmhartig bly teenoor alle mense en mag ons deur die werking van die Gees in beweging kom wanneer die nood van ander met ons praat!
Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer.
Ubi caritas et amor, Deus ibi est.
(Gesang 526)
Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal