Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 4 Julie

Om soos ’n koringkorrel te verander...

Bybelteks(te)

JOHANNES 12

23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

JOHANNES 12:23-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om in-Christus te lewe, vra allereers om in-Christus te sterf. Harde woorde! One must die before you die! Hierdie beginsel lê in die hart van die groei en verandering waarna elke gelowige hunker. Jesus verwys in Johannes 12: 24 natuurlik na sy eie dood. By wyse van ’n voorbeeld verduidelik Jesus dat Hy aan die kruis gaan sterf soos ’n koringkorrel wat in die grond val. Die koringkorrel gaan sterf, maar dit gaan geboorte gee aan ’n plant wat weer nuwe lewe voortbring. Vir die lewe van die gelowige het dit bepaalde implikasies: Ons sal moet lewe soos Jesus ons leer om te doen.

Natuurlik sal ons nooit kan sterf soos Christus sterf nie! Die sterf in- Christus vra na ’n lewe wat op Jesus gerig bly. Dit vra selfopoffering. Dit vra ’n kruisiging van die menslike selfgesentreerdheid en selfliefde.

Romeine 8: 9 help ons om te verstaan dat so ’n lewe wel moontlik is: Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Die Heilige Gees beheer jou lewe deur God se Woord. Lees die Bybel gereeld, praat met God en probeer om op hierdie manier duidelikheid te kry oor hoe die Gees jou lewe wil lei en hervorm.

Ons het nou reeds deel aan hierdie nuwe en ewige lewe wat deur Jesus se dood ons deel geword het. Ek hoor so dikwels dat Christene steeds op hierdie lewe bly wag asof dit nie nou nie, maar eendag ons deel sal word. Die genade en die beloftes van ons Here is nou reeds ons deel. Die verandering gebeur diep in ’n mens se lewe. ‘n Misterieuse oomblik waar die mens-in-Christus gees word en deel kry aan die lewe wat nooit weer ophou nie.

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS