Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 3 Julie

Hoe kan ek die verskil wees?

Bybelteks(te)

GENESIS 1

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”

So het dit gebeur.

31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

GENESIS 1:26-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Konstante vraag waarmee elke Christengelowige besig is: Hoe kan ek regtig die verskil wees? Hoe kan ek as mens daartoe bydra dat die wêreld en my onmiddellike omgewing ’n beter plek word? Die lewe en die toekoms wat God bied, vra ’n bepaalde ingesteldheid op die lewe en op God. Dit vra dat my gedrag, fokus, gesindheid en totale lewe sal bly verander om meer en meer te word soos God my bedoel het om te wees. Die strewe na groei en ontwikkeling is so deel van ’n gelowige se lewe: die hunkering om volgens 2 Korintiërs 3:18 aan die beeld van Christus gelyk te word en die heerlikheid van ons Here te weerspieël.

Die goeie nuus is dat die Skepper ’n droom en ’n plan het vir jou lewe! God bring nie net hoop nie, maar skep en ontsluit ’n wêreld en ’n toekoms waarin liefde, vrede en hoop ons deel is. Om uiteindelik so te verander dat ons die lewe en waardes wat Jesus aan ons uitgebeeld en voorgehou het kan naleef, is dit van kritieke belang dat die gelowige in Christus se voetspore bly trap. Jesus se lewe en al die praktiese dinge waarmee Hy hom besig gehou het, help ons om die verskil te wees.

Geskape na die beeld van God en in-Christus herskep, vra na ’n nuwe lewensoriëntasie waar die genade en liefde van God my voortdurend verander om buite die sfeer van myself met ander besig te wees.Om met ander besig te wees soos Jesus ons leer! Om in hierdie wêreld met deernis en medelye na ander om te sien. God het ons lief, nie omdat ons verander het nie. God bly ons verander sodat ons kan liefhê! Hierdie liefde word deur die Gees in ons gewek. Mag ons deur deur die werking van die Gees die verskil wees.

Werk in u gemeente, Here – Vader, Seun en Heil’ge Gees –
reinig ons deur u genade, laat ons offers heilig wees;
U is heilig, maak óns heilig deur die werking van u Gees.
(Gesang 475: 2)

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS