Dagboek 2021 – 4 Augustus
Daar is altyd hoop
Bybelteks(te)
LUKAS 15
Die gelykenis van die verlore seun
Twee seuns en een pa in ’n unieke verhouding. Twee seuns met uiteenlopende geaardhede en pligsbesef. Die jongste miskien baie meer selfgesentreer as die oudste, maar waarskynlik ook meer kreatief en met groter waagmoed. Hy wil sy vlerke sprei en die lewe ontdek. Hy sou ook deeglik daarvan bewus wees dat sy erfdeel, volgens die gebruike van destyds, baie minder sou wees as dié van sy ouer broer en dus met minder geleenthede om homself te vestig en uit te leef. Hy oefen sy opsie uit om sy erfdeel voortydig te kry, en hy sprei sy vlerke.
Sy besluit boemerang egter wanneer hy op die harde manier moet leer dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie. Soms lei jou voortvarendheid tot jou ondergang en word jy ’n gevangene van jou verkeerde besluite. Tog is daar in so ’n situasie altyd nog ander moontlikhede as om maar net die gevolge van jou verkeerde keuses te aanvaar. Die jongste seun kom tot inkeer en besluit om in nederigheid na sy ouerhuis terug te keer en by sy pa om genade te pleit.
Aan die ander kant is daar die oudste seun: standvastig, met goeie lewenswaardes, hardwerkend, trots op sy afkoms en met ’n groot verantwoordelikheidsgevoel. Miskien het hy sy jonger broer dikwels verwyt dat dié hom alleen gelaat het om na sy ouers om te sien. Tog het hy waarskynlik gedink dat hy eendag die vrugte sou pluk van sy harde en toegewyde werk. Vir hom was dit dus ’n groot ontnugtering dat sy pa sommer so onvoorwaardelik en met groot ophef, hierdie broer van hom terugverwelkom. Vir hom lei dit tot selfbejammering en woede en ’n verwyt teenoor sy pa.
Jesus vertel hierdie gelykenis om ons iets te laat begryp van die grootsheid en onvoorwaardelikheid van God se liefde. God verwyt en veroordeel nie, maar pleit by ons om die verhouding met Hom in ere te hou met die gees van vergewensgesindheid en verdraagsaamheid. Albei seuns was eintlik verlore, maar Hy reik sy hande na albei toe uit.
Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop