Dagboek 2021 – 3 Augustus
Die hoop beskaam nie
Bybelteks(te)
ROMEINE 12
Jare gelede was daar ’n spotprent in ’n koerant van ’n man wat gered word nadat hy lank alleen op ’n verlate eiland gebly het na ’n skeepsongeluk. Die leier van die reddingspan stap op die strand na die erg gehawende man toe, en gee vir hom ’n stapel koerante. Met komplimente van die kaptein, sê hy. Hy wil hê jy moet deur die hoofopskrifte lees en dan vir ons sê of jy nog steeds gered wil word.
Vandag se hoofopskrifte lyk ook allesbehalwe belowend. Maar die hoop beskaam nie. Maar wat is hoop?
Jogebed wat ’n biesiemandjie met klei en pik waterdig maak vir haar babatjie om hom in die Nyl tussen die riete te versteek te midde van dreigende lewensgevaar – dit is hoop! Moses wat terugkeer na Egipte om sy volk uit slawerny te lei terwyl daar ’n uitstaande lasbrief vir sy arrestasie op aanklag van moord is – dit is hoop! Jakobus en Johannes en die ander wat hul bekende lewens agterlaat en Jesus volg – dit is hoop!
Jesus wat ’n geharde misdadiger die paradys beloof aan die kruis – dit is hoop! Die leë graf – dit is hoop!
Hoop is die afgeskeepte middelkind van Paulus se triptiek: Geloof, hoop en liefde. Geloof sonder hoop is net dooie dogma. Liefde sonder hoop is maar net nostalgie en heimwee, ’n verlange na ’n vergange tyd. Hoop gee sin en betekenis aan geloof en aan liefde – en gevolglik ook aan ons lewens. Hoop is geloof in aksie, en liefde in beweging.
Op ’n dag sien Martin Luther die glinster in sy kinders se oë terwyl hulle verlangend na ’n bak varsgeplukte perskes kyk. En Luther besef: Dit is hoe diegene lyk wat hulle verbly in die hoop, na aanleiding van Romeine 12:12. In ons geestesoog sien ons die afwagting in hierdie kindertjies se oë, terwyl hulle uitsien na die vrugtefees. En ons besef, dis dieselfde kyk in ons oë as ons besef die ware hoop het deurgebreek. Jesus Christus is ons hoop!
Dr Johan van Staden, Sionspoort